Bekendes

7de Laan-akteur “word ’n vrou”

Toemaar, dis nie permanent nie, dis net vir ’n televisierol! Hennie Jacobs het omtrent ’n metamorfose ondergaan om die rol van ’n vrou in 7de Laan te speel.

Hennie se karakter, Diederik, moes vrou word sodat hy Matrone se brugmaat kan wees. Matrone wou baie graag aan die brugtoernooi met die aanloklike prys deelneem en daarom het sy vooraf met Diederik gekonkel. Die tonele van Henrietta die brugspeler sal laat Oktober op die kassie wees.

Gelukkig bevind Hennie hom in goeie geselskap, want baie ander bekende akteurs het al vrouekarakters vertolk. Dink aan Dustin Hoffman in die1982-prent Tootsie. En wie onthou nie vir Robin Williams in Mrs. Doubtfire nie, waar hy hom ook as ’n vrou vermom het om sy eie kinders se oppasser te word. Maar hoe voel dit vir ’n man om die rol van ’n vrou te speel?

“Dis vir my altyd lekker om iets te speel wat uitdagend is. Wanneer jy na plekke toe moet gaan om seker te maak dat jy geloofwaardig oorkom. So, die ondervinding was ’n fees,” het Hennie aan SARIE.com verduidelik. Dis nie die eerste keer dat Hennie ’n rok aantrek nie, maar die vorige keer was darem ook net vir die verhoog!

Hennie Jacobs. FOTO: Facebook

Hennie Jacobs. FOTO Facebook

Jare se kinderteater het my daarop voorberei. En dan natuurlik ook ’n paar produksies saam met Chris Vorster. In een van Chris se produksies was ek sy ‘skelmpie’ wat op sy skoot moes sit en in die ander een moes ek sy suster speel wat hom aan die einde doodmaak. Dit was baie anders as my 7de Laan-ervaring.”

Chris en Hennie as vroue op die verhoog. FOTO: Facebook

Chris en Hennie as vroue op die verhoog. FOTO Facebook

Dit het elke dag ure gevat om Diederik om te tower in Henrietta. Dit was vir Hennie die moeilikste, vertel hy.

“Ek moet sê die make up was die moeilikste. Jy sit baie lank, maar Theola Booyens, ons hoof van make up, is ’n absolute genius. Sy maak dit so pynloos moontlik en die eindresultaat is heeltemal bo verwagting.

Oor die hoëhakskoene wat hy moes dra, sê hy sy ervaring in kinderteater en die produksies saam Chris Vorster het weer eens baie handig te pas gekom. Vinnig voeg hy by: “Tog, respek vir elke vrou wat dit elke dag moet trotseer.”

En hoe het sy kollegas gereageer teenoor die nuwe vrou op stel? Hy lag lekker wanneer hy vertel:Dit was omtrent ’n treat om elkeen se reaksie te kon beleef, maar die meeste het gesê ek is mooier as wat hulle gedink het ek gaan wees”

Sy vrou se klerekas is veilig. Hy gaan nie sommer een van haar tabberds leen vir ’n geleentheid nie. Nee wat, hy sal maar hou by sy eie klere. Hy loer darem so bietjie na haar goed, maar net met deernis en waardering vir hoe mooi sý daarin lyk.

Kyk hoe het die grimeerprose verloop om Hennie Henrietta te maak.

Henrietta se skoene.

FOTO verskaf

Die proses begin om Hennie in Henrietta te verander.

FOTO verskaf

Stilsit is die wagwoord.

FOTO verskaf

Kom ons kyk hoe lyk dit ...

FOTO verskaf

Tyd vir maskara.

FOTO verskaf

Aitsa, kyk so ’n rooi lip!

FOTO verskaf

Ag nee, watter martelmasjientjie het jy nou beet!

FOTO verskaf

Hulp met die pruik.

FOTO verskaf

Nou net die kapsel bietjie versorg.

FOTO verskaf

En daar is sy. Henrietta in haar volle glorie.

FOTO verskaf