Andre Lötter. FOTO: verskaf

Andre Lötter. FOTO: verskaf

Bekendes

Akteur Andre Lötter en Rickus Welman in 7de Laan kon broers gewees het!

Hy en Rickus Welman het baie gemeen. Hulle kon netsowel broers gewees het.

“Toe ek die brief gekry het vir dié karakter in 7de Laan, was ek baie verbaas. Ons is baie eenders. Ek dink daar is ’n 60% ooreenkoms tussen my en Rickus. Ek en hy het albei ’n liefde vir sport, ons gee om vir mense. Nou onlangs sien ek hy het ’n goeie intuïsie, ek het nogal ’n baie goeie intuïsie oor mense en oor wat met myself gebeur. Daai goed is baie dieselfde! Dan is dit vir my maklik om die rol te speel, want dis goed wat ek verstaan. Nie dat ek sê ek speel myself nie, want hy is ’n bietjie te veel van ’n goody two shoes!”, lag André.

Nee, verduidelik hy aan SARIE.com, Rickus is net ’n goeie ou. By die karakter het hy geleer dat die mense in jou lewe belangrik is, en dat hy, soos Rickus, hulle bymekaar moet probeer hou. Sy vrou, Madelaine, is die mens in sy lewe. Hulle ken mekaar reeds van skool af en sy werk ook in die bedryf as produksie-ontwerper.

André Lötter as Rickus Welman in 7de Laan. FOTO: Verskaf

André Lötter as Rickus Welman in 7de Laan. FOTO: Verskaf

Eintlik wou hy ’n professionele rugbyspeler wees. Op hoërskool was dit sy droom vir die toekoms. Maar toe byt die toneelgogga hom in standerd sewe aan die Hoërskool Goudrif aan die Oos-Rand. Hy het hoofrolle in twee revues op skool gespeel.

“Die skool se revues was groot en het in die Staatsteater gespeel. Ek het hoofrolle gehad en toe byt dit my. Ek het toneel nie gesien as ’n loopbaan nie. Ná skool het ek rugby gaan speel, ek het so bietjie modelwerk gedoen en ek het gewerk. Ek het eers op 22 drama gaan studeer. Ek is die eerste in my gesin om drama te doen. Die ander is almal in ingenieurswese of ambagsmanne, baie slim mense.”

Sy eerste groot rol was Danny in die Roald Dahl-toneelstuk Danny Champion of the World net ná hy in 2009 afstudeer het.

“Ek was ekstaties om ’n hoofrol te speel. Van daar af het ek net aangegaan. Toe kom my eerste televisierol in Binnelanders toe ek Lucas Richter gespeel het vir ’n maand. Direk daarna het ek die rol van Liam le Roux in Villa Rosa gekry. My leerskool was teater, maar televisie was baie anders. In die teater begin en eindig jy, daar is nie stop en cut nie. Met televisie sal hulle jou dikwels in die middel van ’n toneel stop omdat daar ’n tegniese probleem is. Dit was vir my moeilik om in die middel van ’n emosie weer op te tel en verder te speel. Ongelukkig werk dit in ’n sepie so, want ons werk teen tyd. Ek moes vinnig die vaardigheid aanleer om presies in die middel van ’n toneel te kan aangaan.”

Van Binnelanders na Villa Rosa na Sewende Laan was groot spronge, maar André het vinnig aangepas by die verskillende maniere van werk.
Villa Rosa was vir my baie meer ontspanne. Ek het ingegaan, my ding gedoen en die mense was baie ontspanne. Die ander stelle is baie vinnig. By 7de Laan werk jy vinnig, al is die mense ook ontspanne. Dit was ’n baie vinniger tempo om gewoond te raak. Ek was baie kort op die Binnelanders-stel, maar dit was ’n intense storielyn en dit was baie harde werk. Die groot aanpassing vir my was die drie verskillende karakters, hulle is totaal verskillende mense. Rickus is ’n teenpool van Lucas Richter en Liam le Roux. Hulle is nader aan mekaar. Lucas is nie noodwendig boos nie, maar hy doen dinge op ’n evil manier. Villa Rosa se Liam le Roux is ’n totale sosiopaat. Dit gaan net oor hom en wat hy wil hê. Dit was ontsettend lekker om te speel. Dit was ’n eens-in-’n-leeftyd-rol. Almal het ’n ligte en ’n donker kant en om in daardie donker kant in te gaan, is gevaarlik. Maar dit het my baie van myself geleer. Ek het besef daar is dinge in my donker kant wat ek moes leer hanteer. Ek dink Liam le Roux het oor my pad gekom, juis om dit te doen. Ek is nie meer bang vir my donker kant nie. As akteur moet jy jouself goed verstaan, want as jy jouself nie verstaan nie, hoe gaan jy ’n karakter vertolk?”

In November gaan ons André in die rol van Jay van Niekerk sien in die rolprent Eintlik nogal baie. Hy vertel dat hy nogal geskok was toe hy die teks gekry het, want dit was op daardie tydstip in sy lewe baie close to home.

In die fliek, Eintlik nogal baie, speel André die rol van Jay van Niekerk. FOTO: verskaf

In die fliek, Eintlik nogal baie, speel André die rol van Jay van Niekerk. FOTO: verskaf

“Toe ek die teks gekry het, was my pa ses maande oorlede en die teks en my lewe was so na aan mekaar. Ek het weg van mense gelewe. Al wat ek gedoen het, was om my loopbaan na te jaag, sukses na te jaag, daardie tipe goed. Die rolprent is dieselfde. My karakter in die rolprent, Jay van Niekerk, is dieselfde. Hy jaag die heeltyd materiële goed na, wat belangrik is in die lewe, want as jy nie goed het nie, kan jy nie ander mense help nie. Maar daar moet ’n balans gevind word. Daai het baie na aan die been gesny. Dis ’n baie emosionele storie.”

Eintlik nogal baie is gegrond op ’n draaiboek, naamlik Ally, met karakters geskep deur Jarrod de Jong. Oor die rolprent het hy gesê: “Die storie handel oor Jay van Niekerk (André Lötter), ’n aantreklike maar teruggetrokke strokiesboek-animeerder wat sy lewe baie deeglik onder beheer het. Hy kom egter voor ’n kruispad te staan en wanneer hy vir Ally (Marisa Drummond) ontmoet met haar oorbeskermde pa en haar ekskêrel, word sy lewe vir altyd verander op die mees dramatiese wyse. Kykers kan definitief genoeg sneesdoekies byderhand hou wanneer hulle die film gaan kyk.”

Kyk hier na die lokprent.

Die rolverdeling sluit baie bekende en gewilde name soos André Lötter, Marisa Drummond, Zak Hendrikz, Ashmund Martin, Elsabé Daneel, Anton Dekker, Susanne Beyers, Themsie Times en Hein de Vries in.

André en Marisa Drummond in Eintlik nogal baie. FOTO: verskaf

André en Marisa Drummond in Eintlik nogal baie. FOTO: verskaf