FOTO: VERSKAF

FOTO: VERSKAF

Bekendes

Akteur Neil Sandilands behaal sukses in Amerika

Die akteur Neil Sandilands het jare gelede in ons harte ingekruip toe hy die skaam Bart in 7de Laan vertolk het. Maar deesdae is Neil in Amerika op die kassie te sien.

Hy woon sedert 2014 permanent in Los Angeles en speel nou in die CW-reeks The 100, wat handel oor ’n groep tieners wat ná die apokalips teruggestuur word aarde toe.

SKERMGREEP: YouTube

Neil Sandilands as Titus in ‘The 100′                                                              SKERMGREEP:YouTube

“Ek het altyd gewonder hoekom sê mense dis so moeilik. Ek het ’n lang droogte in akteurswerk beleef. Gelukkig was daar Suid-Afrikaanse projekte soos die rolprent Die Ballade van Robbie de Wee, die Nederlandse rolprent The Price of Sugar en ’n paar ander kleiner rolle. Intussen het ek myself besig gehou met regie en ander tegniese dissiplines.”

Maar Neil het nooit moed opgegee nie en in Januarie 2015 het hy ’n gasrol in die TV-reeks The Americans gekry. En in Julie 2015 het hy die rol van Titus in The 100 losgeslaan.

Hier is ’n greep van Neil uit ‘The 100′:

“Daar was ’n honderd onsuksesvolle oudisies en jy moet die kapasiteit hê om die woord ‘nee’ te verwerk. Maar dit is ’n lang proses – hierdie sal my 26ste jaar in die bedryf wees. Ek skat mens leer iets daaruit. Dit is voorbereiding in sigself. In terme van spesifieke oudisies is dit soms net ‘n geval van om so goed as moontlik voorbereid te wees. Ek is altyd woordvas en probeer interpretasie aan die oudisiestukke verleen. Jy maak keuses en soms maak jy die regte keuse,” vertel Neil.

Die geluk is aan sy kant, want vanaf 2 Maart is Neil te sien in die Amerikaanse reeks Hap & Leonard. Hy speel een van die hoofrolle, dié van Paco. Saam met hom in die reeks is James Purefoy (The Following, Episodes), Michael Kenneth Williams (Boardwalk Empire, 12 Years a Slave) en Christina Hendricks (Mad Men, I Don’t Know How She Does It).

FOTO: VERSKAF

FOTO: VERSKAF

Maar Neil sal altyd lief bly vir Suid-Afrika.

“Dis steeds vir my die ‘lekkerste’ werk. Gee vir my ‘n goeie teks en ek is daar in ’n tik en ’n druk.”

Kyk die lokprent van Hap & Leonard, jy sal vir Neil vinnig om 00:32 sien.

Waarskuwing aan sensitiewe kykers: Daar is tonele van geweld.

 Lees nou