FOTO: Instagram / @janbraai

FOTO: Instagram / @janbraai

Bekendes

Bekendes eet: Jan Braai se pasta puttanesca @Janbraai

Jan Braai is koning van die kole. Hy kan byna enigiets op die braairooster aanmekaarslaan. Hier deel hy ’n heerlike pasta-resep.

“Pasta puttanesca is een van die ware Italiaanse gunstelinge wat enige man en vrou regtig behoort te bemeester. Jy kan die gereg uit nie-bederfbare bestanddele aanmekaarslaan, wat hom ’n goeie maaltyd vir ’n braai-kampvakansie maak. Ek probeer om altyd al die bestanddele in my kombuis te hê en gebruik hom soos die reserwebank van ’n rugbyspan. As jy onverwags gaste of meer gaste het. Of vir die aand wat jy te laat tuiskom en die vleis alles gevries is, of vir daardie keer dat jou gunsteling-restaurant vol is en die winkels reeds toe is. Jy kan hom as ’n ligte middagete of aandete op sy eie bedien, maar vir my werk hy ook lekker as die belangrikste bykos saam met gebraaide vleis of vis. Dit sal dan die ete min of meer laat lyk soos iets op die spyskaart van ’n netjiese restaurant in Italië.”

FOTO @Jan Braai

FOTO @Jan Braai

WAT JY NODIG HET (vir 4 mense as hoofgereg, vir 6 tot 8 mense as bykos)

  • 500 g spaghetti
  • 3 sopies olyfolie
  • 1 groot ui (opgekap)
  • 10 ansjovis-filette
  • 5 huisies knoffel
  • 1 rooi brandrissie (ontpit en opgekap)
  • 1 sopie kappertjiesaad, gedreineer (in die winkel noem hulle hom capers)
  • 1 koppie swart olywe (gedreineer en ontpit)
  • 2 blikkies geskilde, gekapte tamaties
  • 2 sopies tamatiepasta
  • sout en peper
  • 1 sopie vars pietersielie (opgekap)
  • basiliekruid (blare, vir garnering)

* sopie = 25 ml

LAAT WAAI!

1. Maak die pasta gaar: Sit die pot op die vuur en kry 4 liter water aan die kook. Voeg 1 sopie sout by (ja, dit is regtig nodig, maar moenie bekommerd wees nie, die meeste van die sout dreineer jy weer saam met die water af). Wanneer die water ordentlik aan die kook is, voeg jy die pasta by. Spaghetti neem omtrent 8 minute totdat dit al dente is, maar kyk ook op die pasta se pakkie en hou die pot dop. Haal die pasta van die hitte af wanneer dit 95% gaar is en dreineer dit in ’n vergiettes. Die pasta sal ’n bietjie gaarder word wanneer jy dit later weer by die sous voeg. Dit is hoekom jy die pasta dreineer voordat dit heeltemal gaar is.

2. Gooi die olyfolie en opgekapte uie in die leë pastapot en sit hom weer op die vuur. Braai die uie vir omtrent 4 minute liggies in die pot. Jy kan altyd twee afsonderlike potte gebruik, maar ek verkies dié metode, want dan is daar minder skottelgoed ná die tyd. ’n Belangrike aspek van ’n goeie resep.

3. Voeg die ansjovis, knoffel en brandrissie by en braai dit vir nog 2 minute, druk die ansjovis met jou houtlepel fyn totdat dit in die olie oplos (as jy nie ’n houtlepel het nie, koop een).

4. Voeg die kappertjiesaad, olywe, tamaties en tamatiepasta by. Roer deeglik en laat die sous vir omtrent 10 minute prut terwyl jy dit elke nou en dan roer.

5. Voeg gemaalde sout en peper na smaak by. Vat dit stadig met die sout, want die ansjovis en kappertjiesaad maak die pot klaar baie souterig.

6. Voeg die spaghetti en pietersielie by en roer dit in die sous rond vir ’n minuut of twee totdat alles behoorlik gemeng en die pasta weer warm is.

7. Jy kan sommer uit die pot uit opskep. Garneer elke porsie met ’n basiliekruidblaar.