FOTO: Leana Clunies-Ross

Bekendes

Die Oscar-saak sit fokus op dié vroue

Die Oscar-saak sit fokus op dié vroue: Reeva Steenkamp, Oscar se suster Aimée,  Reeva se vriendin Gina Myers, Reeva se ma June Steenkamp én regter Thokozile Matilda Masipa.

Vandag kyk ons na Aimée.

My broer, Oscar

Flitse tydens Oscar se verskyning verlede jaar in die Pretoriase landdroshof: Oscar, sy broer, Carl, en suster, Aimée, hou hande vas, vorm ’n kring en bid saggies. Aimée streel sy hand saggies met haar duim. Aimée in trane. Sy was met elke hofverskyning daar, strak, gespanne. Tydens SARIE se voorblad-fotosessie vir ons 2013-Valentynsuitgawe, kort voor die tragedie wat Reeva haar lewe gekos het, was dit Oscar wat Aimée ondersteun het. Dit was haar eerste fotosessie vir ’n tydskrif, wat maar intimiderend kan wees. Oscar weer, is al deur die wêreld se beste fotograwe afgeneem. Self ervare en gemaklik voor die kamera, het hy haar geduldig touwys gemaak, sê Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur.“Moenie my arm só vashou nie. As ons ’n paartjie was, sou jy dit so gedoen het, doen dit liewers só.” Of: “Lig jou kop ’n bietjie op,” het hy raad gegee.

Jy kon sien hulle het deernis vir mekaar, sê Fanie. Hy was liefdevol en beskermend. Sy weer, gemaklik met hom, haar boet. Dit het die fotosessie vir almal soveel makliker gemaak. Hulle het gelag, grappe gemaak en mekaar se siel uitgetrek. “Aimée is so mooi, sy is besig om my heeltemal te oorskadu,” het hy geterg.

Hy noem haar “Noenoe”, het Aimée in ’n video-onderhoud met SARIE verklap. En vir haar is hy sommer “Noe”. As hy nie oorsee deelneem of oefen nie, bring hulle baie tyd as gesin saam deur. Dit gaan nie soseer oor wat hulle doen nie, maar dat hulle sáám is. “Chilling at home with my ‘lil sister,” twiet Oscar op 9 Januarie verlede jaar. “Nothing better than family time.”

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

Sy bak op elke verjaardag vir hom ’n koek – ’n browniekoek, ’n spesiale resep van Sheila, hul oorlede ma. En hy en Carl behandel haar soos ’n “prinses”, het sy aan SARIE gesê. Aimée is een van sy beste vriendinne, het hy op sy beurt vertel. Sy gee goeie raad. Sy is baie volwasse, eintlik soos sy ouer suster.

“Ons kyk mooi na mekaar. Sy gaan uit haar pad om klein dingetjies vir my te doen en help my met dinge waarvoor ek nie tyd het nie. As my PA besig is, hardloop Aimée rond en maak vir my haarafsprake. Soms sny sy sommer self my hare.

“Ek dink sy gee te veel van haarself. Sy is een van daardie mense wat jy maklik as vanselfsprekend aanvaar omdat sy so sag is.”

*Die artikel in die April-uitgawe van SARIE gepubliseer.