FOTO Clinton Lubbe

FOTO Clinton Lubbe

Bekendes

Wen kaartjies na Nataniël se nuutste produksie, MANNEQUIN!

Vir Nataniël is die verhoog die een plek waar hy weer heel word. Dis daar waar al sy pyne en moegheid verdwyn.

Die speelvak van dié verhoogmeester se nuutste produksie begin binnekort in Gauteng. MANNEQUIN gaan oor ’n skrywer wat ’n boek beplan oor ’n kluisenaaragtige kleremaker. Saam met oorspronklike musiek, sal Nataniël ook sy weergawe van ’n paar van die wêreld se beste liedjies uit die laat sestigs en die tagtigs vertolk.

Nataniël deel die verhoog met Charl du Plessis (klawers), Juan Oosthuizen (kitaar), Werner Spies (baskitaar), Hugo Radyn (tromme) en die sangers Nicolaas Swart en Dihan Slabbert. Die produksie is weer in Afrikaans en Engels en die kostuums deur Floris Louw gaan weer asemrowend mooi wees.

Nataniël se vorige groot produksie, After Animals, het vanjaar met 5 Naledi-toekennings weggestap, meer as enige ander produksie of kunstenaar.

Die vertoning is van 18 Augustus tot 25 September by Emperors Palace.
Kaartjies kos vanaf R160 per persoon en kan bespreek word by die kaartjiekantoor van Emperors Palace by 011 928 1297/1213, of by www.emperorspalace.com. Kaartjies kan ook by Computicket bespreek word..

Nataniël het per e-pos ’n paar vrae oor MANNEQUIN geantwoord.

Waar kom die inspirasie vir hierdie stuk vandaan?
Die verhaal is al meer as tien jaar in my kop. Dit gaan oor ’n groepie mense wat die stadslewe/sosiale struktuur/regering ondraaglik vind en besluit om ’n tweede of alternatiewe bestaan te soek. Die aarde beleef tans ’n baie onveilige, onseker, onbeskofte, ongesonde tydperk en ek het besluit dis die perfekte tyd om dié verhaal te vertel. Dis baie snaaks en vermaaklik, maar handel uiteindelik oor dapperheid.

Hoeveel kostuums is daar, en is dit weer so spectacular soos in jou vorige show?
Daar is baie kostuums. Die verhaal speel af in die werkwinkel van ’n groep kleremakers, daarom is kostuums dié belangrikste element in die vertoning. Floris werk al byna ’n jaar aan die kostuums. ’n Kleiner weergawe van MANNEQUIN is vroeër vanjaar in Kaapstad aangebied, die res van die kostuums word nou klaargemaak.

Tydens jou vertoning verlede jaar was ek verstom oor jou vinnige en unieke kostuumveranderings. Is daar weer sulke kort tye tussen kostuumveranderings?
Ons oefen die kostuumveranderings soos wat ons die musiek en choreografie oefen, soms is ek lank in een kostuum, ander kere verander dit blitsvinnig. Dit neem ’n hele span wat soos spoke in die donker kan raakvat.

Hoe motiveer jy jouself om elke aand op die verhoog te klim en jou beste te gee, want jou stukke is uitdagend om op te voer?
Die verhoog is helend, dis waar al my pyne en moegheid en bekommernis en woede verdwyn. (Totdat een ’n selfoon aansit!) ’n Vertoning maak jou nie moeg nie, om te reis of te toer put my uit tot in my siel, maar met my jaarlike speelvak by Emperors Palace is ek ses weke lank by die huis. Dis hemels!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

5 gelukkige SARIE-lesers kan elk ’n dubbelkaartjie WEN na MANNEQUIN by Emperors Palace vir Woensdag, 24 Augustus om 20:00! Vul slegs jou besonderhede in.

*Die prys sluit slegs die kaartjies in en sluit enige ander onkoste uit.