Bertha le Roux. FOTO: verskaf

Bertha le Roux. FOTO: verskaf

Bekendes

Leef nóú jou drome uit – Bertha le Roux

Sy leer uiteindelik om behoorlik te dans, want jy is nooit te oud om jou droom uit te leef nie, sê aktrise Bertha le Roux.

In die televisieprogram Nou of nooit, op Via, moet sy en haar mede-aanbieder, Pulane Sekepe, die leefstylveranderinge maak waarvan hulle nog altyd gedroom het. Bertha wou haar lewe lank graag leer om goed te dans, daarom bemeester sy baldans. Pulane oefen om die The Beast-hindernisbaanresies af te lê.

“Ek het 13 weke om 7 soorte danse te leer doen. Latyns-Amerikaans en baldanse, naamlik die rumba, die cha-cha, die salsa, die swing, die tango, die foxtrot en die wals. Die program trek nou by episode twee en ons word blootgestel aan die afrigters. Pulane gaan 13 weke oefen om ’n fiksheidsuitdaging aan te durf. Sy gaan in dié tyd ses dae van elke week vir ’n uur per dag saam met ’n afrigter oefen. Op die ou einde gaan sy aan ’n The Beast-wedloop deelneem. Ons het ander goedjies wat ons ook aanpak. Ek gaan aan die einde van die 13 weke ’n danseksamen aflê en in ’n kompetisie dans. Maar ons het ook muur geklim en by ’n secret sunrise gedans,” verklap Bertha aan SARIE.com.

Dans is iets wat sy nog haar hele lewe lank wou doen. As kind het sy vir een jaar ballet gedoen, maar dit was vir haar bietjie vervelig. Sy verduidelik dat daar toe net geleenthede was vir ballet en Spaanse dans, maar nie een van dié twee was haar passie nie.

“Ek en my man, Karel, het aan die begin van ons verhouding so ’n bietjie gedans, maar hy het sewe linkervoete, soos ek heeltyd met hom spot. Ek is te ongeduldig om te wag dat hy leer. Op universiteit het ek gedans by die bokjolle. Op familietroues het ek altyd met my pa, Braam, gedans. Baldanse en moderne danse het eers later gekom. Teen daai tyd het ek gevoel ek is te oud om te leer. Dis vir my lekker dat dié uitdaging nou gekom het. Doen dit nóú, maak nie saak hoe oud jy is nie. Volg jou droom na om te kan dans,” sê Bertha.

Die moeilikste vir haar was om die verskillende passies van die onderskeie danse te onthou.

“Om te onthou hierdie is nou die swing! Die tango, die wals en die foxtrot is redelik maklik om uitmekaar te hou. Elke danspassie het sy eie stappies, jy het jou basiese stappie, dan is daar promenades en daai goed. Dit was vir my die moeilikste. As ek eers gecha-cha het, wil ek net cha-cha, en as ek moet oorgaan na die rumba toe, dan is dit net so ‘oeps’. Daar is ’n groot postuurverskil tussen die baldanse en die Latyns-Amerikaanse danse. Ek dink dit was maar die groot uitdaging. Omdat my heupe so breed is, wil mens nie juis aandag daarna toe trek nie, maar dis juis wat die Latins vra. Dan moet jy lekker wikkel met jou heupe. Ek dink dit was ’n uitdaging, lyfgewys. Verder was dit maar net om die ideale fiksheidsgraad te bereik sodat ek nie ná elke dans op die grond neerslaan nie. Dis baie oefening. Ek het lekker gesweet. Julle sal in die program sien hoe ons sweet,” lag Bertha.

Wat die leerproses vir haar vergemaklik het, is dat haar afrigter dit pret gemaak het. “As ons in die middel van ’n dans vashaak en nie meer weet wat om te doen nie, dan lag ons daaroor en gaan aan. Jy kan jouself maklik in die voet skiet as jy dit te ernstig opneem, want dan geniet jy dit nie.”

Bertha le Roux. FOTO: Via TV

Bertha le Roux. FOTO: Via TV

In die program doen sy en Pulane elkeen hul eie ding, maar daar is ook dinge wat hulle saam doen, verduidelik sy. “Ons sien die voedingkundige saam, sy help ons met ordentlik eet. Ek volg die Banting-leefstyl en Pulane doen ’n vetvrye dieet. Maar ek en Pulane sien mekaar elke week. Ons drink koffie en praat oor die week se verrigtinge. Ons het saamgewerk aan O vet!, die prent wat eers volgende jaar gaan uitkom, maar het mekaar nou beter leer ken en vriendinne geword. Daar is oomblikke wat ons mekaar moet ondersteun, want jy wil soms opgee.”

Pulane Sekepe en Bertha le Roux. FOTO: Via TV

Pulane Sekepe en Bertha le Roux. FOTO: Via TV

Waarom bant sy? “Ek het nou al die hele pad gestap met diëte. Ek het nie gesoek vir ’n dieet of ’n gewigsverliesprogram nie. Ek het gesoek vir ’n leefstyl. Met Banting het ek gesien dis ’n leefstyl wat my gesin ook kan volg. Dis volhoubaar en die kos is steeds lekker. Ons almal eet dieselfde, ons hoef dit nie aan te pas vir my man of my kinders nie. Dis nie my bordjie kos en hul bordjies kos nie, dis alles dieselfde. Dit maak dit makliker. Ek is nou twee en ’n half maande besig. Die proses is nog in sy kinderskoene, maar dis regtig ’n leefstyl wat ek kan volhou.”

Vir Bertha is dit lekker om die cha-cha te doen, maar die passie wat in die tango gaan, is nogal vir haar lekker, vertel sy. “Die wals is natuurlik vir my baie spesiaal omdat dit die dans is wat ek en my pa gedoen het. Ons het altyd gewals. As ons by ’n troue was en ’n wals speel, dan was ek en hy saam op die dansvloer.”

Haar twee dansrokke vir bal- en Latyns-Amerikaanse danse is gemaak deur Elzaan van der Merwe van Mamilla. Bertha het soms haar twee dogters, Kiana (9) en Brioné (6), saamgeneem as sy gaan oefen. “Dit was groot pret en die kinders het dit ook geniet. Dit het hulle ook ’n geleentheid gegee om te sien hoe ek werk.”

Nou of nooit word Dinsdag om 21h00 op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai.