FOTO Twitter @PublicProtector

FOTO Twitter @PublicProtector

Bekendes

Dít moet die nuwe Thuli hê!

Watter eienskappe het ’n goeie openbare beskermer nodig?

Gister is in die parlement onderhoude gevoer met die 14 kandidate op die kortlys om te sien watter een die meeste geskik is om in Oktober die warm stoel van openbare beskermer by adv. Thuli Madonsela oor te neem. Kandidate moes bont staan om vrae te beantwoord oor alle aspekte van hul lewe.

Beweerde korrupsie, roekelose bestuur, nalatige en onprofessionele optrede tot ’n argument met ’n meerdere is van die onderwerpe wat onder die soeklig gekom het. Die kandidate se integriteit en geloofwaardigheid is deeglik getoets deur die vrae wat hulle moes beantwoord.

In haar tydperk as Suid-Afrika se openbare beskermer het adv. Thuli Madonsela nooit haar integriteit prysgegee nie. Sy word nie verniet beskryf as ’n ystervrou nie, want sy het nie geskroom om magtige mense se skandale te openbaar nie en het selfs “vir pres. Jacob Zuma aangevat soos niemand anders nog kon nie. En sy staan vas by haar verslag oor Nkandla, ten spyte van hewige persoonlike aanvalle en kritiek (veral uit regeringskringe).” (SARIE, Nov 2014)

Wat is dus die eienskappe wat ’n goeie openbare beskermer moet hê? In ’n onderhoud met adv. Madonsela in die November 2014-uitgawe van SARIE het sy ’n paar eienskappe verklap.

1. “By my ma, Nomasonto, het ek deernis en medelye geleer.”

2. “My pa, Bafana, het ons weer dissipline geleer. Sy wêreld was swart of wit, reg of verkeerd, en integriteit was alles. Hy het ook my belangstelling in geregtigheid aangevuur.”

3. “Ek hanteer mense met respek, selfs wanneer ek nie respek het vir dít wat hulle sê nie, en ek is altyd oop vir nuwe insigte. As ek nie saamstem nie, sal ek niemand verkleineer nie.”

4. “Wanbestuur is een van die grootste diewe van ons drome. Die geldgierige kultuur in ons nuwe demokrasie is deel van die probleem.”

5. “My grootste mag lê daarin om die publiek betrokke te kry.”

In die artikel wei adv. Madonsela ook uit oor haar toekoms ná Oktober.

“My kontrak eindig in Oktober 2016, maar as advokaat het ek altyd ’n permanente werk in die hof en sal teruggaan soontoe. Ek het ook al twee regsboeke geskryf en sal nog boeke oor die Grondwet en die OB se kantoor wil skryf. Ek is uitvoerende sekretaris by Afrika se Ombudsman- en Bemiddelaarsvereniging (AOMA) en sal beslis by dié liggaam wil aanbly. Goeie staatsbestuur is noodsaaklik vir die Afrika-renaissance om te gebeur en ek sal graag my deel wil doen daarvoor.”