Bekendes

EKSKLUSIEF: Paula van 7de Laan se baba

Kykers sal Dinsdag op televisie sien hoe die eerste gesinsfoto’s geneem word van Paula van der Lecq en klein Mika, haar baba in die gewilde sepie 7de Laan. SARIE.com kan nou al vir julle wys hoe lyk Paula en haar Mika.  

Teen hierdie tyd weet kykers reeds dat Paula bitter graag ’n baba wil hê en dan besluit om een aan te neem. Sy het iemand gekry wat bereid is om haar baba op te gee. Al die papierwerk om die baba wettig aan te neem, is al gedoen. Dinsdag kan kykers sien hoe ingenome Paula met klein Mika is. Is moederskap Paula beskore? Ons wonder self!

Diaan Lawrenson het die rol van Paula vir byna 13 jaar gespeel. Die storielyn met baba Mika is van die laaste tonele waarin sy op stel van 7de Laan was. Sy het in die Mei 2016-uitgawe van SARIE vertel die besluit om die Laan te verlaat, was moeilik en traumaties, juis omdat dit so ’n groot deel van haar lewe was. Diaan het verduidelik dat haar en haar man, Jody, se prioriteite die laaste paar jaar verander het, veral noudat hul dogtertjie, Olivia-Rose, vanjaar graad 0 begin het, en hul seuntjie, Thomas, drie jaar geword het. “Ek wil daar wees vir Jody en ons kinders,” het sy gesê.

Maar vir oulaas kan kykers nog deel in Paula se lief en leed op die kassie. Onthou om Dinsdagaand om 19:00 op SABC 2 te kyk na die fotosessie in 7de Laan. SARIE.com het per e-pos met Diaan gesels oor hoe dit was om met klein Nevaeh, wat in die rol van Mika te sien is, op stel te werk.

Mika, Paula se baba. FOTO: Phillip Rabie

Mika, Paula se baba. FOTO: Phillip Rabie


Is dit moeilik om met ’n baba op stel te werk, want jy kan nie juis vir hulle voorskryf nie?

Dit kan moeilik wees. Stelle is nie babavriendelik nie, maar 7de Laan se produksie- en vloerbestuurder het baie moeite gedoen met Nevaeh. Sy was pragtig en stroopsoet. Ons het dadelik connect.

Was sy soet op stel, want sy lyk na ’n baie oulike ou dingetjie?
Nevaeh was pragtig en stroopsoet. Ek dink ook dit help dat ek twee kinders van my eie het en baie ontspanne was met haar. Dit was vir my net ’n plesier om met haar te werk. Megan, haar mamma, was ook baie gemaklik. Dit help, want die babas voel dit aan.

Jou eie kinders is nou al groter en verby die babastadium. Het dié baba jou weer broeis laat voel?
Hahaha. Ja en nee. Ek is mal oor babas en oor ma-wees. Ek dink babas is wonderwerke en geskenke. En my kinders is die beste ding wat ooit met my gebeur het. Ek dink ek en Jody is die perfekte kombinasie.

Waarmee is jy besig noudat jy nie meer op stel by 7de Laan is nie?
Ek gee klas by Afda in die Kaap. Ons maak reg om twee projekte vir die kanaal Via te skiet. En ek doen ’n bietjie inhoudsvervaardiging vir ander projekte. Volgende naweek is ek en Jody by die Vrystaat Kunstefees met Klein jakkalsies. Ek is besig. Baie besig! Ons familie vind ook ons voete in die Kaap en ek en die kinders bring tyd saam deur. Dis goed vir my.

Kyk hier na die foto’s van Paula en klein Mika wat deur Phillip Rabie geneem is.

Paula met Mika

Mika

Paula met klein Mika

Mika

Paula met Mika