Julie 1949 - Desember 1953

Julie 1949 - Desember 1953

Het jy gehoor?

13 SARIE-feite: Het jy geweet?

Geluk, liewe SARIE! Op 6 Julie 1949 het die tydskrif vir die eerste keer op die rak verskyn en vandag vier ons haar 67ste verjaardag. Vandag gesels SARIE met meer as 2 miljoen lesers per maand deur haar verskillende publikasies en daagliks en uurliks op SARIE.com. Ja, ons wêreld is groter en vinniger as in 1949, maar ons stories bly steeds elke leser se storie. En daarvoor sê ons dankie. Hier is 13  SARIE-feite wat jou dalk gaan verras.

1. My Sarie Marais…

Vanwaar die naam? 

Reg geraai, ons naam kom van die volksliedjie “Sarie Marais”. ’n Wedstryd is voor die tyd gehou, en Sarie Marais is deur ’n vrou van Kimberley voorgestel. Sy was ook teenwoordig by die klein geselligheid met die bekendstelling van die tydskrif. Dié naam het presies gesê wie ons teikenmark is – die Afrikaanse vrou. ’n Tydskrif vir, van en oor die Afrikaanse vrou, so Afrikaans, sy het selfs ’n Afrikaanse naam. Boonop was “Sarie Marais” die liedjie ook bekend aan Engelssprekende adverteerders. Maar gou het almal net van SARIE gepraat – hoewel die mashoof Sarie Marais gebly het tot einde Januarie 1976.

sarie

Die heel eerste SARIE van Woensdag 6 Julie 1949 het binne ’n paar uur heeltemal uitverkoop – teen ’n skamele sikspens (vyf sent)! Daar’s byna vuisgeslaan om een van die 35 000 eksemplare in die hande te kry. Die volgende oggend het Die Burger dit uitbasuin: Sarie Marais slaan alle SA pers-rekords. Die tydskrif, toe weekliks, het binne ses maande reeds ’n sirkulasie van 67 026 per week gehad.

2. Sjiek Sophia

Die eerste SARIE (sonder Marais) as deel van die mashoof was dié van 11 Februarie 1976, met die grande dame van die silwerdoek op die voorblad: Sophia Loren. Die Marais is geleidelik verklein omdat dit te veel plek opgeneem het. Later was dit byna onopsigtelik klein. Deur die jare het SARIE se mashoof dikwels verander, dalk ’n bewys van ’n moderne leser wat gedurig op die uitkyk was vir iets nuuts.

sarie

3. In kleur en geur

SARIE se laaste swart-wit voorblad groet op 26 Januarie 1955 met ’n skoenlapper en ’n gousblom. Hierna is die kleurvoorblaaie ’n ruk lank in Italië gedruk en na SA verskeep. Die eerste volledige volkleur-SARIE wat in SA gedruk is, verskyn op 28 Augustus 1963 (die buiteblad sowel as van die binneblaaie was in kleur). Trots SA!

sarie

4. Maandelikse glans 

In Junie 2002 word SARIE ’n maandblad met die bekende SA model Bernice Dodd op die voorblad. Die prys? R11,45 teenoor die weeklikse 6 pennies in die beginjare; en tweeweekliks sedert 9 Februarie 1955 teen 1 sjieling. Hierdie voorblad en die tydskrif se herontwerp plaas SARIE met verkope los voor alle ander vrouepublikasies in die land – ’n posisie wat SARIE vir meer as ’n dekade behou.

bernice dodd

5. Ons is bekroon

Met pryse en toekennings sing SARIE voor in die koor – meer as honderd sedert 2001. Nie ’n enkele afdeling van die tydskrif of losstaande handelsmerkuitbreiding (SARIE KOS/SARIE FOOD, SARIE WOON, SARIE BRUID, SARIE GESOND, SARIE kreatief en die webtuiste, SARIE.com) is nie oor die jare bekroon nie. Die tydskrif self het ’n paar keer weggestap met die Pica vir Beste Algemene Tydskrif in SA, en die redakteur, Michélle van Breda, met die Pica vir Redakteur van die Jaar. In 2008 het sy ook Media24 se Piet Cillié-prys vir Joernalistieke Uitnemendheid ontvang.

pica_2011

6. Kolskoot 

Met die berugte en beroemde uitgawe van 16 Maart 1983 veroorsaak SARIE ’n storm met ons veelbesproke en omstrede G-kol-artikel. Die uitgawe het uitverkoop, maar is ook byna van die winkelrakke verban. (En op die voorblad − dr. Chris Barnard se nuwe liefde van toe, Karin Storay.)

sarie

7. Dáái troue . . .

Die koninklike sprokiestroue wat die wêreld tot stilstand gebring het, dié van Diana en prins Charles, het ook SARIE van 19 Augustus 1981 se sirkulasie die hoogte laat inskiet tot 241 478.

diana

8. Twee teen vyf!

Daar was 5 mans in die stoel voor die eerste vroue as redakteur sou oorneem. Lizette Rabe (1994 – Januarie 2001), tans voorsitter van die joernalistiek-departement aan die Universiteit Stellenbosch, en die huidige redakteur, Michélle van Breda. Oor ’n man as redakteur van Sarie Marais lees die notule van 1949 soos volg: “Die uitgangspunt is dat die hoof van die blad lewensryp moet wees en in die eerste plek deeglike kennnis van die gesinslewe moet hê … dit is ook noodsaaklik dat die redakteur deur ’n bekwame dame bygestaan word.” ’n Baie bekwame dame is inderdaad gevind – die bekende joernalis en skrywer Alba Bouwer.

9. Kookwater 

En wie’t ons hier?! Die huidige kosredakteur van SARIE KOS, Barbara Joubert, op die voorblad van ons wintermode-en-skoonheidsbylae van 27 Maart 1985. So pas is Herman Lensing, SARIE-kosredakteur en aanbieder van die tydskrif se eerste TV-program, Inspirasiekos met SARIE op VIA, aangewys as een van Mail & Guardian se top-200 jong Suid-Afrikaners in 2016. Gepraat van kookwater!

barbara joubert

10. Carike bo!

Ons hoogste sirkulasiesyfer in die tydskrif se geskiedenis was vir die uitgawe van 12 Desember 1990 met Carike Keuzenkamp op die voorblad. ’n Allemintige 258 263. Vir die voorblad het SARIE se haarstileerder sommer vinnig voor die fotosessie Carike se hare in die ateljee geknip. Dit was een van vele suksesvolle Carike-voorblaaie vir SARIE.

carike keuzenkamp

 12. Ja, die manne!

In 67 jaar het SARIE dit nog net met 5 manne op hul eie op die voorblad gewaag: die Hollywood-akteur Richard Gere op 14 September 1983 (na aanleiding van die trefferfliek American Gigolo), en jare later Steve Hofmeyr, ons Kaalkop-rubriekskrywer Nataniël, Olimpiese swemmer Ryk Neethling en hartebreker-sanger Bobby van Jaarsveld. Hoe verkoop hulle? Behalwe vir die heer Gere wat ’n fiasko was, is die ander voorbladwenners!

srcovers68          .tif

 

13. 1ste met aanlyn winkel

Ons was die heel eerste glanstydskrif in SA met ’n aanlyn winkel. Spree is deur SARIE begin as ’n loodsprojek vir Media24 en was deel van die tydskrif se 360-gesprek: “Daar waar jy die leser is, daar is SARIE.” Vir dié stukkie innovasie was SARIE die eerste ontvanger van Media24 se Digitale Innovasie-prys.

 

*Terloops, die getal 13 is ’n gelukkige getal vir SARIE! Vir ’n deel van die tydskrif se beste jare was ons op die 13de vloer van die Media24-sentrum in Kaapstad.

SARIE se 1ste nuwe mashoof sedert 2002! Dié logo sê in ’n oogwink waarvoor die tydskrif en elke leser staan: rooi vir passie en energie, die blok vir modern, die S vir stylvol en sensueel (ook SARIE), en die trefreël ons inspirasie belowe sáám is ons sterker, beter!

JUL

Lees ook