FOTO Willem Lourens

FOTO Willem Lourens

Het jy gehoor?

15-jarige entrepreneur se 2de besigheid

Op 12 het Sébastian Dubois al sy eerste onderneming, Bas se spens, begin. En nou, op 15, beplan die jong entrepreneur sy tweede.

Die eerste een was ’n rondreisende padstal met enigiets van ingemaakte perskes en beet tot appelkooskonfyt en vye … Dít is aangevuur deur ’n natuur-en-skeikundeprojek oor gepreserveerde kos.

Sy nuutste idee (hy wil nog nie die naam verklap nie) het ook sy ontstaan in die natuur-en-skeikundeklas gehad. “Ek wou ’n swaai maak om te kyk of kinetiese leermetodes jou studies verbeter. Dit is boonop ’n stylvolle sitplek in ’n tienerkamer,” vertel dié vyftienjarige entrepreneur.

Die “sitplek” is ’n skaatsplank. Meer wil hy nie sê nie. “Jy sal natuurlik nooit weet of die onderneming gaan werk nie, dit is ’n waagstuk.” Maar om entrepreneur te wees gee hom selfvertroue. “Jy verstaan hoe geldsake werk – jy besef jy moet mense terugbetaal, maar jy het ook ’n besef van hoe die mark werk.” Die lekkerte van geld verdien is natuurlik dat jy kan spaar, gee, en leef, meen hy.

“As een skaatsplank breek, is daar altyd geld vir nog een. Dit is ook lekker om iets te koop as jy daarvoor gewerk het.”

Sébastian Dubois

Sébastian Dubois

Hy is gek oor skaatsplanke. “Ek wil in daardie rigting beweeg met my besigheid. Dis nie moeilik om my ou onderneming te groet nie, want ek het ’n nuwe passie, maar ek werk nog aan ’n konsep en ek moet kontakte kry vir afsetgebiede. Ek weet nie wanneer dit gaan begin nie, maar ek hoop gou, want anders is ek platsak.”

En die beste wenk vir voornemende entrepreneurs? “Begin net. Dis ideaal as jy dit doen wanneer jy in die hoërskool kom, want die werk wat jy doen, motiveer jou dikwels om projekte uit te dink wat jy prakties kan toepas,” sê Sébastian.