sr1105deon_meyer
Het jy gehoor?

Deon Meyer se boek 13 Uur word ‘n fliek

“Daar is nog min wat oor 13 Uur die fliek gesê kan word. Die draaiboek is in konsep-stadium en daar is nog geen uitsluitsel oor musiek, rolverdeling en uitreikingsdatums nie,” het Deon aan sarie.com gesê.

Hy kon wel bevestig dat die fliek in Kaapstad, waar die boek ook afspeel, geskiet sal word. En dit is al genoeg om Deon se getroue lesers baie opgewonde te maak!

13 Uur begin met ‘n oproep wat speurder-inspekteur Bennie Griessel in die vroeë oggendure wakker maak. Hy moet kom, ‘n jong meisie se lyk lê langs St. Martini, die Lutherse kerk bo in Langstraat. Intussen hardloop haar vriendin teen die hang van Leeukop af, vreesbevange vir die mens wat haar vriendin se keel afgesny het en háár nou soek …

Lees resensies oor 13 Uur en kyk na foto’s van plekke wat in die boek besoek word, onder meer die Lutherse kerk waar die lyk gevind is …

DEON SE OORSESE PRYSE


  • Infanta ontvang die Martin Beck-prys, ook bekend as die “Den gyllene kofoten” (Die Goue Breekstaaf) van die Sweedse Akademie van Misdaadskrywers as die beste speurroman in 2010.
  • Le Pic du Diable, die Franse vertaling van Infanta, word vereer met die Leserstoekenning van CritiquesLibres.com vir die beste misdaadroman in 2010.
  • 13 Uur is op die kortlys vir die Britse CWA International Dagger in 2010. (In 2009 het dit ook plaaslik die ATKV-prys vir spanningslektuur ontvang en die M-Net-prys in die kategorie Mees filmiese roman). Die filmregte van 13 Uur is in Augustus 2009 toegeken aan ‘n rolprentspan in Londen. Roger Spottiswoode (Under Fire, Tomorrow Never Dies) sal die regie hanteer. ‘n Draaiboek word nou ontwikkel.
  • Weisser Schatten (Onsigbaar) ontvang die Duitse Krimi-prys in 2009 (en die ATKV-prys vir spanningslektuur in 2008). 
  • Proteus wen die Duitse Krimi-prys in 2006 (en in 2003 die ATKV-prosaprys). 
  • Orion (Franse titel: Les Soldats de l’aube) wen die Prix Mystère de la critique in 2004 (en in 2000 die ATKV-prosaprys).
  • Feniks (Franse titel: Jusqu’au Dernier) wen die Grand Prix de Littérature Policière in 2003. Feniks is die eerste van Deon se boeke waarvoor filmregte verkry is.
13 Uur Infanta Feniks