FOTO: Unsplash

FOTO: Unsplash

Het jy gehoor?

3 wenke vir bobaas-gesondheid

Vandag is Wêreldgesondheidsdag. En miskien het jy ook ’n kleintjie dood aan kalenderdae wat uitgesit word om alles van die man in die maan tot skaars klipsoorte te gedenk. Maar vandag val die kollig op diabetes, en statistieke lyk sleg. Al meer mense kry diabetes. Tot 1 uit 3 volwassenes wêreldwyd is oorgewig en byna 1 uit 10 mense op aarde het diabetes. 

As jy nog jonk is en baai in die “onverganklikheid van die jeug”, gaan jy miskien nou hier ophou lees. Maar moenie, want almal van ons word ouer! Daarby word wat in die verlede “oumens-diabetes” genoem is, oftewel tipe 2-diabetes, al hoe meer by jong mense en selfs kinders gediagnoseer .

FOTO: UNSPLASH

FOTO: UNSPLASH

Een gemene faktor

Daar is een gemene faktor wat ’n rol speel in die afwesigheid van gesondheid, of in die teenwoordigheid van alle siektetoestande: voedingstowwe. Alle siektes of siekteprosesse word beïnvloed deur óf die gebrek óf die ooraanbod hiervan.

Die uitsluiting of ooraanbieding van sekere voedingstowwe, wat dikwels met diëte gepaardgaan, het ’n wesenlike invloed op die werking van elke klein selletjie se diepste kern tot by jou groot derm.

Die rol wat gebrekkige inname van voedingstowwe in die ontwikkeling van wanordelike suiker-metabolisme en verwante toestande soos diabetes, insulienweerstandigheid en oorgewig speel, word al hoe meer ondersoek. Fitonutriënte soos betakarotenoïede, vitamiene (veral vitamien B-kompleks, maar ook vitamiene A, E, C en D) en minerale soos magnesium en sink speel almal op diverse maniere ’n rol in hoe die liggaam suiker kan gebruik.

3 wenke om jou gesondheid te verbeter

FOTO: Unsplash

FOTO: Unsplash

Probeer gerus dié maklike 3 wenke om jou gesondheid te verbeter en ook jou risiko vir diabetes te verminder.

 

  1. Mik elke dag vir ten minste 2 koppies rou of net-net gaar groentesoorte. (Lekker resepte op Facebook en ander).
  2. Eet liewer ’n kleiner porsie “skoon” vleis as ’n groter porsie goedkoper verwerkte vleis. Kies dus liewer bv. maalvleis as wors, spek of polonie. Koop ’n heel hoender, maak dit gaar en gebruik die hele week daarvan. Goedkoper vleisopsies soos hoenderlewertjies en selfs pote en afval, sowel as eiers, is uitstekende bronne van voedingstowwe. Jy het nie baie daarvan nodig nie.
  3. Oppas vir “broodsindroom”. Brood – alle brood, behalwe waar jy self bak met klipgemaalde meel – is ’n hoogs verfynde voedselsoort. Gerieflik, maar verfynd. Vervang brood met voedsame alternatiewe ryk aan voedingstowwe soos ’n piesang met grondboonbotter, ’n patat of lensies en bone.

Onthou, elke stappie is ’n stappie in die regte rigting. En kuier gerus saam met my om beter te leer eet op Facebook en www.betereet.co.za. Daar’s nog baie maniere om jou voedingstofinname te verhoog en jou gesondheid so te verbeter. Begin net iewers. In volgende keer se blog vertel ek bietjie meer oor broodsindroom.

Groete,

Mariza

Mariza23 copy

Geregistreerde dieetkundige Mariza van Zyl. In haar nuwe boek, Dik vir dieet (Naledi, R245), beantwoord sy onder meer vrae wat sy gereeld hoor.