Theresa May

Theresa May

Het jy gehoor?

5 goed wat jy van Theresa May moet weet

Minder as 3 weke ná Brexit en David Cameron se bedanking gaan Theresa May eerste minister van Brittanje word.

Die premierskap het effens vinniger as beplan gekom ná May se teenstander in die Konserwatiewe Party, Andrea Leadsom, Maandag bevestig het sy tree uit die Tory-leierstryd.

Enkele ure ná Leadsom se aankondiging is Theresa as die nuwe partyleier aangewys en David Cameron het gesê hy verlaat Woensdag Downingstraat 10, die ampswoning.

Dit is die tweede keer dat Brittanje ’n vrou as premier het – Margaret Thatcher was van 1979 – 1990 eerste minister. En as Hillary Clinton later vanjaar vir Trump verslaan, gaan drie van die wêreld se magtigste lande deur vroue bestuur word: Theresa in Brittanje, Hillary in die VSA en Angela Merkel in Duitsland.

Hier is 5 feite oor die nuwe Britse leier

1. Theresa May née Brasier is in 1956 in Eastbourne gebore en het aan die Universiteit van Oxford aardrykskunde studeer voordat sy by die Bank van Engeland begin werk het. Sy het later ’n konsultant geword en ’n Tory-raadslid. Sy is in 1997 verkies tot LP en is in 2010 aangestel as minister van binnelandse sake.

Sy is die dogter van ’n dominee, nes Duitsland se Angela Merkel, en haar familie help ook graag hul medemens. Die twee vroue is boonop albei bekend vir hul deursettingsvermoë om dinge gedoen te kry.

2. Sy is getroud met die sakeman Philip May en het geen kinders nie. Kort ná hul troue het albei haar ouers binne maande van mekaar gesterf.

Benazir Bhutto, die voormalige eerste minister van Pakistan, het die egpaar aan mekaar voorgestel, volgens BuzzFeed Politics.

3. Sy het haarself nie tydens die referendumveldtog oor Brexit uitgespreek nie, al het sy amptelik David Cameron se standpunt gedeel, maar sê nou sy sal werk om ’n sukses daarvan te maak.

Haar “Go home or face arrest”-veldtog teen onwettige immigrante is in 2013 kwaai gekritiseer. Twee busse met dié boodskap op het deur Londen se strate gery.

4. Sy het tipe 1-diabetes en moet haarself twee keer per dag met insulien inspuit. Toe diabetes in 2013 by haar gediagnoseer is, het sy gesê dit sal nie haar werk beïnvloed nie.

5. Sy wil meer vroue in die parlement sien. Sy is die voormalige president van die veldtog Women2Win wat vroue aanmoedig om vir LP’s te staan. Sy praat ook gereeld oor geleenthede vir vroue.

BONUS: Fotograwe is mal oor haar skoene

Dié sterk vrou staan stewig – in mooi skoene. Theresa is lief vir mooi en interessante skoene en fotograwe neem dit gewoonlik af.

Lees nóg feite oor Theresa May op BuzzFeed Politics.

Luister hier na haar toespraak ná sy as partyleier gekies is