Candice Swanepoel
Het jy gehoor?

4 Redes waarom SA se Candice die wêreld se mooiste vrou is – en dit het niks met haar lyf te doen nie

Die manstydskrif Maxim het dit amptelik bevestig: SA se Candice Swanepoel is die sexyste vrou op aarde. En ons stem saam, maar nie (net) oor haar benydenswaardige lyf nie.

1) Haar vel

Candice het van nature ’n baie mooi vel. Maar sy voed haar vel van binne af – daarom het sy altyd ’n gloeiende gelaat.

Sy vertel aan die Britse Grazia dat sy kos eet met baie voedingswaarde soos vis, groen groente, neute en ander kos wat ryk is aan omega en olie, soos avokado en goji-bessies.

2) Sy’s nie rietskraal nie

Baie modelle is maer, maar onfiks en ongesond. Candice fokus daarop om fiks te wees. “Die vinnigste manier om goed te voel en selfvertroue te kry, is om fiks en gesond te wees,” vertel sy aan die Australiese Vogue.

Sy oefen ook saam met haar afrigter Justin Gelband wat ’n nuwe filosofie aan die mode-wêreld bekendgestel het: “Dit gaan nie daaroor om model-maer te wees nie, maar oor om model-fiks te wees.”

3) Liefde vir SA

Dié 25-jarige model het groot geword op ’n plaas op Mooirivier in KwaZulu-Natal. En alhoewel sy nou in Amerika woon, is sy steeds lief vir Suid-Afrika. Kyk net na van die mooi foto’s wat sy van haar lewe op die plaas op Instagram gedeel het …

4) Groot hart

Sy het verlede in SA kom kuier om twee veldtogte vir Woolworths se somerreeks te skiet. Sy het toe ook liefdadigheidswerk met Operation Smile gedoen. SARIE.com het saam met haar gekuier en op video vasgevang hoe emosioneel sy geword het toe sy oor haar ervaring met die kinders van Operation Smile gepraat het en hoe dit voel om weer by die huis te wees …