Het jy gehoor?

5 SA celebs skitter oorsee

Charlize, Sharlto, Gavin Hood, Candice Swanepoel (foto bo) en Richard E. Grant se name staan heelbo aan die lys van Suid-Afrikaners wat die dollars laat inrol oorsee.

Charlize Theron skiet tans in Namibië aan die vierde Mad Max-film, Fury Road, wat in 2013 begin draai. Haar onlangse kuier in die Kaap het wyd media-aandag geniet. Sy, haar ma, Gerda, en baba Jackson het heerlik in Kaapse restaurante en winkelsentrums uitgehang, in wat gelyk het na ‘n mini-vakansie so tussendeur die verfilming van Mad Max: Fury Road.

Charlize Theron en haar ma, Gerda

Dié Oscar-bekroonde aktrise van Benoni vertolk ook tans die hoofrol in The Clan, ’n film wat in die Middeleeue afspeel. Sy is ook die uitvoerende regisseur daarvan saam met Terry George (regisseur van Hotel Rwanda).

Sharlto Copley het bekendheid verwerf vir sy onvergeetlike vertolking as die polisieman Wikus van der Merwe in District 9. Hy werk weer saam met Neill Blomkamp, regisseur van District 9, aan sy volgende wetenskapfiksie-riller, Elysium. Dit speel af in 2159, met Matt Damon en Jodie Foster in die hoofrolle.

Copley speel ook ‘n koning in die fantasiefilm Maleficent saam met Angelina Jolie. Dit vertel die sprokie van Sneeuwitjie, maar vanuit die perspektief van die prinses (Elle Fanning) se teenstander, Maleficent (Jolie). Voorspellings is dat dit Disney se lokettreffer van 2014 gaan wees.

Gavin Hood is die man agter A Reasonable Man, Tsotsi en X-Men Origins: Wolverine. Ons ken hom veral vir daardie ongelooflike oomblik toe Tsotsi in 2005 ‘n Oscar in Los Angeles vir beste buitelandse film gewen het. Tans is hy ook die regisseur van Ender’s Game – die verwerking van Orson Scott se bekende boek. Dit handel oor talentvolle kinders wat gewerf word om teen ruimtewesens te veg. Die rolprent word in Maart 2013 vrygestel en kritici glo dit sal die talentvolle Hood as ’n erkende Hollywood-regisseur vestig.

Op die modelfront is dit die 24-jarige Candice Swanepoel (foto bo) wat al die aandag trek. Sy is een van die Victoria’s Secret Angels en het reeds verskyn op die voorblaaie van Elle en GQ, asook in advertensies vir Tom Ford, Tommy Hilfiger en Versace.Haar lyf het haar reeds as tiener sowat R40 000 in die sak gebring vir ’n dag se werk. Sy is vanjaar deurForbes aangewys as een van die modelle wat die meeste geld verdien.

Richard E. Grant is een van Swaziland se bekendste uitvoerprodukte. Hy is nou wel nie ‘n Suid-Afrikaner nie, maar van die suidpunt van Afrika. Hy het kultusstatus gekry nadat hy in 1987 die dronkaard Withnail gespeel het in Withnail and I. Hy het ook in Jack and Sarah, The Age of Innocence, The Portrait of a Lady en Penelope gespeel. In 2013 verskyn hy saam met Jude Law in die donker komedie Dom Hemingway. Hy bied ook Hotel Secrets aan, ’n dokumentêre reeks waarin hy die luuksste hotelle besoek.  

Watter Suid-Afrikaner oorsee is jou gunsteling?