Het jy gehoor?

80 000 expats stem in verkiesing

Sowat 80 000 SA’ners wat oorsee bly, gaan glo eersdaags in ons algemene verkiesing stem. Ons het met ‘n paar van SARIE se Facebook-vriende daaroor gesels.

 

“Ja, ek gaan beslis stem! Ek is geregistreer, my VC10-vorm is gefaks, my ID-boekie is afgestof en ek het reeds gereël vir ‘n oggend af om te gaan stem. Ek gaan stem, want alhoewel ek reeds 6 jaar in Taiwan woon, is Suid-Afrika steeds my geboorteland. My ouers en my broer woon steeds daar en ek besit ook eiendom daar. My ouers het my van jongs af geleer dat ‘n mens nie kritiek mag lewer oor landsake en die regering as ‘n mens nie stem nie. Ek voel ook dat dit nie net ons reg is as burgers om te stem nie, maar ook ons plig. Die Suid-Afrikaners hier is oor die algemeen almal baie opgewonde dat ons vir die eerste keer sedert 1994 weer sal kan stem!” – Wynand van Ellewee, Taiwan

 

“Nee, ek kan nie. Ek is wel geregistreer in SA, maar ons naaste ambassade/konsulaat is in die VSA en ek kan nie nou daar uitkom nie. Dit maak my sommer ongelukkig, want ek dink dat elkeen van ons ons reg om te kan stem moet gebruik. Dit is nie net ‘n reg nie, maar ‘n ontsaglike voorreg! Ek kan egter nie anders nie en moet maar daarmee vrede maak.” – Eurika de Klerk Ricard van Christiansted, US Maagde-eilande

 

“Ek sal graag wil gaan stem, maar ek het lankal nie meer ‘n ID-dokument nie .. .ek het verneem dat ek met my ID en paspoort moet gaan stem …” – Georg Niewoudt, Taiwan

 

“Inderdaad, ons het tot die naweek om te registreer om te kan stem.  Ek kan jou nog nie sê hoe maklik dit gaan wees nie, maar ons gaan inderdaad probeer. Ek het ‘n tydjie gelede vir soveel mense as moontlik laat probeer weet van die beslissing en die nodige inligting aangestuur m.b.t. registrasie, ens.
Ons maak staat op almal in ons netwerke om dit vir soveel moontlik Suid-Afrikaners te stuur wat nie tans in Suid-Afrika woon nie. Ons almal bly op hoogte van wat daar aangaan en meeste van ons het al ons familie in Suid-Afrika, of ten minste die meerderheid.  Ons is baie lief vir Suid-Afrika en wil net die beste vir Suid-Afrika hê en dit kan ons slegs van hier doen deur ook ons stemme uit te bring.
Meeste van ons bly op hoogte deur webwerwe van Beeld, Rapport, Sarie en so meer te besoek.” – Martie Taljard, Australië

 

“Ons woon in Phuket, Thailand. Sover ek weet kan jy net by die SA ambassade stem. Ek en my man wil graag stem en wou registreer, maar ongelukkig is die ambassade in Bangkok en dis so amper ‘n 1000 km hier van Phuket af. Weens werksverpligtinge en kostes verbonde kan ons ongelukkig nie Bangkok toe gaan om daar te gaan stem nie.” – Rika Fourie, Phuket, Thailand

 

“Ek wil bitter graag stem, want ek glo regtig dat elke stem ‘n verskil gaan maak!  Die jammerte is dat hier waar ek bly, Cayman Islands, is nie ‘n stempunt nie. Ek dink ons is baie naby aan ‘n duisend Suid-Afrikaners op die eiland.  Ons moet Cuba toe vlieg as ons wil stem, en agv verlof en die koste van die vlug, dink ek meeste mense sal ongelukkig nie kan stem nie.” – Mariska Groenewald, Cayman-eilande