FOTO Tetra Images / Getty Images / Gallo Images

FOTO Tetra Images / Getty Images / Gallo Images

Het jy gehoor?

Die ABC van die Zika-virus

In 2015 is 3 500 babas met klein skedels en breine in Brasilië gebore. En nóú vermoed wetenskaplikes dat die Zika-virus moontlik die oorsaak kan wees.

Wetenskaplikes probeer nou vasstel of ’n swanger vrou wat die virus opdoen dit aan haar fetus kan oordra, berig VOX. Die virus word deur besmette muskiete versprei. Maar terwyl hulle dít probeer bepaal, het lande soos Brasilië versoek dat vroue vir minstens twee jaar nie swanger moet raak nie.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het 20 lande in die Amerikas al gevalle van die Zika-virus aangemeld. En die WGO verwag dat dit oor groot dele van Noord- en Suid-Amerika sal versprei, berig The Telegraph.

Babas wat met klein skedels (mikrokefalie) gebore is:

 

Vinnige feite

1. Die Zika-virus kom veral in tropiese gebiede voor en is al in gebiede van die Amerikas, Afrika en Asië aangemeld.

2. Die virus word deur die Aedes-muskiet oorgedra.

3. Daar is nog geen teenmiddel of inenting beskikbaar nie.

4. Simptome: Moegheid, koors, spierpyn en ’n uitslag. Simptome duur so 2 tot 7 dae.

Bronne: VOX, WGO, The Telegraph

Swanger vroue word aangeraai om nie plekke soos Mexiko, Brasilië, Samoa en Haïti te besoek nie.

Zika vs. malaria

Malaria word deur ’n parasiet veroorsaak en deur die wyfie van ’n spesifieke soort muskiet (genus Anopheles) versprei. Die wyfie suig bloed, want dis nodig vir die ontwikkeling van eiers. Die mannetjie lewe van blom-nektar. Plaaslik is dit meestal die parasiet P. falciparum. Dit veroorsaak die ernstigste malaria-komplikasies en die meeste sterftes.

Dis ’n mite dat daar ’n nuwe, dodelike soort malaria is. Serebrale malaria is nié nuut nie, maar ’n komplikasie van onbehandelde falciparum-malaria. As dit nie binne 48 uur ná die verskyning van simptome behandel word nie, kan jy sterf.

Vroeë diagnose en toepaslike behandeling kan dit voorkom.

Bron: Prof. Anton Stoltz, spesialis in aansteeklike siektes, Pretoria

leandie du randt voorblad feb februarie
Die inligting oor malaria is verkry uit ons Februarie 2015-uitgawe. “Malaria, die stil dodelike vyand” is deur ons gesondheidsredakteur, Lydia van der Merwe, geskryf.

 

 

 

Lees nou