Het jy gehoor?

Blogger neem wraak op klere-handelsmerk ná plus-grootte belediging

Die blogger Jes, oftewel The Militant Baker, het ’n ope brief aan Abercrombie & Fitch (A&F) se hoof uitvoerende beampte, Mike Jeffries, geskryf om vir hom te verduidelik dat vetter mense ook aantreklik kan wees. Sommer saam met foto’s wat sy laat neem het om A&F se advertensieveldtogte as Attractive & Fat uit te beeld.

Mike Jeffries, A&F se hoof- uitvoerende beampte, het glo ’n sake-strategie om eerder op aantreklike, maer mense te fokus as op groter kliënte. Hy verkies inderdaad dat sy hot kliënte nie eens van dié groter mense in A&F se klere sien nie. Sό berig E! Online. Jes bedank Mike in haar brief vir dié strategie omdat dit ’n geleentheid vir sosiale verandering skep. En betaal hom as’t ware met gelyke munt!

“Dié geleentheid het my geïnspireer om te wys dat ek gemaklik in my eie vel is en om daarmee te spog deur die kontroversiële platform wat jy geskep het, te gebruik,” skryf sy in die brief. Uiteindelik daag sy Mike ook uit om kaalbolyf saam met ’n vet, aantreklike meisie foto’s te neem.

Mike se beleid het in die kollig gekom nadat Robin Lewis, medeskrywer van The New Rules of Retail, sy interpretasie gedeel het uit onderhoude wat hy sedert 2006 met hom gedoen het. Dit was in ’n onderhoud met Business Insider.

Intussen het verskeie bekendes hul ontevredenheid uitgespreek. E! Online vertel Ellen Degeneres het op haar televisie-program jong mense daaraan herinner dat die belangrikste nie jou fisieke voorkoms is nie, maar dat jy gesond en gelukkig is.

“Skoonheid is nie kleregroottes tussen 0 en 8 nie. Dis glad nie ’n nommer nie. Dis nie fisiek nie,” het die ster gesê. Net so het die aktrise Kirstie Alley haar misnoeë gedeel en sommer gesê sy sal nooit weer by A&F koop of haar kinders toelaat om daar te koop nie, skryf E! Online verder.

Sophia Bush, wat jare lank Brooke op One Tree Hill gespeel het, het ook haar teleurstelling op Twitter gedeel.

Loer na al die foto’s op Liora K Photography se webblad.