FOTO Gallo Images / Getty Images

FOTO Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Adele groter en groter (en kleiner en kleiner)

As ons ons nie vergaap aan die doelgemaakte (bespoke) Burberry-rok wat sy op haar wêreldtoer dra nie, vier ons saam met haar die sukses van haar 5 Billboard-musiektoekennings gisteraand, onder meer die een vir beste kunstenaar. Daarmee het sy stof in die oë van Taylor Swift en Justin Bieber geskop.

Groter en groter

En dan het ons nog nie eens begin praat oor haar nuwe musiekvideo wat sy ook gisteraand by dié toekenningsgeleentheid bekend gestel het nie.

In die video van “Send My Love” verskyn ’n baie skraler Adele in ’n pragtig geblomde Dolce & Gabbana-rok wat op Net-A-Porter vir sowat R108 416 verkoop word! Só lyk die rok op die looplank:

Kleiner en kleiner

Adele het glo 30 pond (13,6 kg) verloor, maar nié omdat sy toegegee het aan die druk van die bedryf nie –  eerder om gesondheidsredes. Sy het ook ophou rook. Die 28-jarige superster het haar nog nooit veel gesteur aan druk om gewig te verloor nie. Sy het in die verlede gesê sy maak musiek vir ore, nie vir die oë nie.

Maar hoe kan ons nié na haar kyk nie, want op enige gewig kan jy vir Adele Laurie Blue Adkins (ja, dís haar volle naam!) deur ’n ring trek.

Adele het gewig verloor deur gesonder te eet en meer te oefen. Sy het ook suiker uit haar dieet gesny.

“Ek het in die verlede tot 10 koppies tee per dag gedrink met 2 teelepels suiker daarin – dis 20 teelepels suiker per dag!” het sy aan The Sun gesê. “Vandag het ek meer energie as ooit tevore!”

FOTO: Adele in 2008 toe sy net begin bekend raak het

En haar oefensessies word onder die wakende oog van die voormalige driekampatleet Pete Geracimo gedoen. Hy volg die Tabata-metode wat bestaan uit spierbou-oefening én intense kardiovaskulêre oefeninge.

Adele het verlede jaar gesê sy laat nie toe dat haar gewig haar lewe beheer nie. “Ek het probleme met my liggaam-selfbeeld, maar dit beheer my geensins nie. Daar is groter probleme in die wêreld as hoe ek oor myself voel,” het sy aan die musiekblog SiriusXM gesê.

Daar’s net een jy, so waarom wil jy soos al die ander mense lyk? Hoekom wil jy dieselfde haarstyl as die res hê? En waarom wil jy almal se opinies deel?

Wat dink jy van Adele se skraler voorkoms?

Kyk hieronder na “Send My Love” – sedert dit gisteraand opgelaai is, het meer as 2 miljoen mense al daarna gekyk!

 

Nuwe rekord

Adele gaan glo binne die volgende week ’n kontrak met Sony Music sluit van £90 miljoen (meer as R2 miljard). Dít beteken dat sy die Brit gaan word wat die grootste musiekkontrak nog gesluit het, volgens The Sun.

Die sanger wat altyd dié rekord gehou het, was Robbie Williams se EMI-kontrak van 2002 vir £80 miljoen (meer as R1,8 miljard).

Die Britse Sunday Times skat dat Adele vanjaar £85 miljoen (R1,9 miljard) werd is. Nadat sy dié groot kontrak geteken het, sal die bedrag aansienlik groei.

Nie sleg vir ’n 28-jarige nie!

Bronne: Hollywoodtake.com, The SunSiriusXM, Romper, Daily Mail en The Hollywood Reporter.