Het jy gehoor?

African Footprint is gróót

Nee, dis toe nie The Lion King nie … African Footprint is SA se gunsteling-musiekspel, só bekroon by die Top Billing and Johannesburg Tourism Company Joburg’s Best Awards vir 2008. Dié verhoogproduksie van Richard Loring se sterkste mededinging was weliswaar The Lion King en Chicago. Nog ’n produksie van Loring, Hairspray, was ook ‘n finalis.

African Footprint het die afgelope dekade ook groot voetspore gelaat in die harte van internasionale gehore. Met passievolle sang- en dansvertolkings het die groep die diverse geskiedenis en gees van die mense van Suid-Afrika oorgedra aan gehore van onder meer China, Indië, Australië, Israel, Kanada en Mexiko.

Hulle was verlede jaar, ná ’n suksesvolle Amerikaanse toer, een van die grootste trekpleisters by Gold Reef City Casino se The Lyric Theatre met sy 1 100 sitplekke.

Loring glo die vurige talent van Suid-Afrikaners moet wêreldwyd bekend gestel word. “Dié produksie verenig die klanke van die hipnotiese hartklop van die Afrika-trom, die opgewekte kwêla-fluitjie en die inspirerende woorde van Don Mattera met kwêla-jive, tradisionele gumboot, klopdans, kontemporêre ballet en hip-hop.” (Om ‘n video-greep te sien, klik hier; om liedjies af te laai, klik hier)

*Die nuutste vertoning by The Lyric Theatre is die extravaganza Motown Magic, wat op 22 April begin.

Klik hier vir meer inligting oor African Footprint