sr1006flieks06
Het jy gehoor?

Afrikaanse flieks blom (Deel 1)

Dis ’n fliek met romance en drama. Daar’s ’n pragtige heldin en ’n ru-aantreklike held. G’n vloekery of geweld nie. En dis in Afrikaans!

Toe Jakhalsdans (kyk die voorprent) einde April in SA teaters begin draai het, het dit as’t ware die herlewing van Afrikaanse flieks ingelui. Dit neem ons terug na die goue era toe ons met piekniekmandjies in inry-teaters gaan kyk het na aangrypende gesinsflieks soos Dirkie, Môre-môre, Kwikstertjie, Sarah, Beeld vir Jeannie en nog vele meer. Inry-teaters se dae is verby, maar die Afrikaanse fliek is terug. Maak jou in die volgende jaar of twee reg vir titels soos Liefling, Susanna van Biljon se storie en Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom.

Vir ’n paar dekades was daar ’n droogte in die Afrikaanse rolprentbedryf. Dít terwyl SA een van die oudste filmbedrywe ter wêreld het. “Killarney Film Studios is reeds in 1915 gebou en ons het al internasionaal gewerk vóór die koms van klank-films,” sê die bekende filmmaker Franz Marx.

In die afgelope jare het Katinka Heyns van Sonneblom-films twee Afrikaanse flieks gemaak: Paljas (wat vir ’n Oscar benoem is) en Die storie van Klara Viljee.

Meer onlangs was daar slapstick-films soos vervaardiger Henk Pretorius se Bakgat (Bakgat 2 word op 10 September uitgereik) en Vaatjie sien sy gat van Willie Esterhuizen.

Op komediegebied het die Leon Schuster-flieks met elemente van ál SA se tale en kulture nog altyd sterk gestaan. ’n Aantal flieks in ons ander amptelike tale het selfs aandag by die Oscars getrek. Tsotsi het ’n goue beeldjie vir Best Foreign Language Film gewen, Yesterday is ook vir ’n Oscar benoem en White Wedding was nóg ’n SA inskrywing.

Vanjaar is District 9 as beste fliek benoem vir ’n Oscar, en Morgan Freeman as beste akteur vir sy vertolking van Nelson Mandela in Invictus – albei flieks met ’n sterk SA verbintenis.

En wie sal ooit Jamie Uys se The Gods Must Be Crazy vergeet? Dis destyds internasionaal bekroon. Ook Cry the Beloved Country, Sarafina en Regardt van den Bergh se (biografiese) Faith like Potatoes en Hansie het ons in onlangse jare geïnspireer.

Kyk al hierdie flieks!

 Jakhalsdans
 ’n Onderwyseres, Mara Malan (Elizma Theron),
 koop met haar laaste spaargeld ’n huis op Loxton in die Karoo
 om haar dogter, Mia (Janke Bruwer), in ’n veilige omgewing groot te maak.
 Sy ontdek die skool op die dorp gaan sluit, tensy sy R500 000 in die hande kan kry.
 Dawid le Fleur (Neil Sandilands) stel ’n musiekfees voor. Intussen leer Mara en
 haar “mislike buurman”, Ruan Landman (Theuns Jordaan), mekaar beter ken.
Nenna en Nora in die Egoli-fliek

 Egoli volg op die TV-reeks. Burgert Muller, uitvoerende vervaardiger van
 Franz Marx Films, beskryf dit as ’n spanningsrolprent waarin Joe (Darren Kelfkens)
 en Niek (David Rees) se geheime uit hul donker verlede oopgekrap word.

 “Maar daar is ook ’n goeie dosis humor waarvoor Duifie (Casper de Vries) en
 Faan (André Stoltz) sorg,” sê Burgert. Wees op die uitkyk vir Egoli-gunstelinge
 soos Nenna, Nora en Louwna.

 Lees die resensies deur:

 SARIE se Fanie Cronjé

 SARIE se Marguerite van Wyk

Getroud met rugby: Die onvertelde storie gaan oor ’n fiktiewe provinsiale rugbyspan, die Stryders.
Die fliek volg die doen en late van vier rugbypare: Reinhardt (Henré Pretorius) en Inge (Corine du Toit);
Dries (Garth Collins) en Driekie (Ciske Kruger); Brendan (Marlon Roelofze) en Abi (Stacy Koma);
Fafa (Altus Theart) en Kiki (Hanna Grobler) van die TV-reeks is almal daar.
Die groot nuwe fonds is die sexy Izak Davel, bekend as Scab in Egoli en meer onlangs vir Survivor SA.
Hy speel die rugbyspeler Reghart wat van die “verkeerde kant van die spoorlyn” kom.
Uitreikdatum: November 2010.
Bendepret van 25 jaar gelede Trompie is nog ’n TV-reeks wat ’n fliek word. In dié aksiebelaaide avontuur kom die
Boksombende weer ná 25 jaar bymekaar om die Krugermiljoene op te spoor.
Daar is sprake dat Stefan Ludik Blikkies gaan speel.
Verfilming begin rondom Augustus.
Plakkaat van Hanna Hoekom-fliek

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom is ’n tienerfliek wat gegrond is op
Marita van der Vyver se boek. Regardt van den Bergh is die regisseur. Hanna
(Anneke Weidemann) het ’n ingewikkelde gesin, maar sy is bekkig, intelligent
en verbeeldingryk. Anna-Mart van der Merwe speel haar verstrooide skilder-ma en
Tertius Meintjies is haar gay mode-ontwerper-pa. Helene Lombard speel die ma van Hanna se stiefboeties. Sy woon in Hollywood. Uitreikdatum: Augustus 2010.