FOTO: Phyllis Green

Het jy gehoor?

Afrikaanse ikoon binnekort in Binnelanders

Die legendariese Sonja Herholdt maak een van die dae haar verskyning in die kykNET-sepie Binnelanders.

“Dit was regtig lekker – dis sulke nice mense en ’n baie lekker ateljee! Dit was ’n goeie ervaring en ek het dit baie geniet,” vertel Sonja opgewonde aan SARIE.com.

Sonja gaan haarself in dié gewilde sepie speel. “Ek gaan help om die koor af te rig en moet twee mense sover kry om met mekaar saam te werk,” vertel Sonja. Haar tonele is reeds in die middel van Februarie geskiet en is in April op die kassie.

Maar op haar eerste dag op stel het Sonja ’n onaangename ding oorgekom!

“Toe ek by die ateljee aankom, was ek baie senuweeagtig. En aangesien ek myself speel, moes ek ook my eie klere saamneem. Nadat ek die klere uit my kar se kattebak gehaal het, slaan ek dit op my kop toe!” En dié insident het gesorg vir ’n straaltjie bloed oor haar gesig nog voordat sy op die stel van die hospitaalsepie gekom het.

“Gelukkig het dit nie blou geword en geswel nie.” Sy moes haarself met ’n yspak dokter.

Vir Sonja was dit baie anders om in ’n sepie te speel as in rolprente.

“In film moet jy jou woorde ken en presies reg sê, maar by Binnelanders is die dialoog baie vryer.” Sonja was ook onlangs in die musiekfliek Liefling.

Is dit ’n begin van ’n sepieloopbaan vir Sonja? “Ek sal dalk weer so iets doen as daar ’n geleentheid is wat vir my werk …”

En haar gunsteling-herinnering van Binnelanders? Sy bly geheimsinnig hieroor. “Dit sal te veel van die storielyn weggee!”

Sonja se kinderliedjies

Sonja se tweede kinder-DVDSonja, Tjokker en kinders – word ook binnekort vrygestel. Op dié DVD vertel Sonja, wat jare gelede ’n onderwyseres was, stories terwyl sy oorspronklike geestelike musiek sing.

Sonja en Tjokker, die hond in haar kinder-DVD's FOTO: Twitter

Sonja en Tjokker, die hond in haar kinder-DVD’s
FOTO: Twitter

“Die belangrikste as jy met kinders werk, is om eerlik en opreg te wees. Jy kan nie ’n kind bluff nie.”