Het jy gehoor?

Agter die skerms by die nuwe SHOUT-video

Soveel Suid-Afrikaners word geraak deur geweld, dis byna onmoontlik om te sê jy ken niemand wat al onder misdaad deurgeloop het nie.

In 2009, ná die moord op die reggae-sanger Lucky Dube, het Danny en Kabelo saam met nog bekendes besluit om hul stem dik te maak teen geweld en misdaad in die vorm van musiek, en so is die nie-winsgewende organisasie SHOUT gebore.

Hulle het toe ’n video van die 80’s-treffer “Shout” van die groep Tears for Fears opgeneem en dit op digitale platforms begin verkoop. Dit was ‘n groot sukses, en nou, twee jaar later, maak hulle ‘n opvolg-video.

“Dit is ’n reuse-projek wat oor drie dae strek en meer as 120 bekendes betrek,” vertel Insaaf Khan, die reklamebestuurder van SHOUT. Dié bekendes sluit mense soos Kurt Darren, Karen Zoid, Arno Carstens, PJ Powers, Bryan Habana en Die Heuwels Fantasties in.

Die liedjie wat in die nuwe video gebruik word, is nog ’n treffer uit die 80’s, maar hulle wil nie ‘n woord daaroor rep nie. Dit is deur een van die meer as 160 000 SHOUT-aanhangers op Facebook voorgestel.

Die nuwe video word by Constitution Hill en op ander plekke in en om Johannesburg geskiet.

Die SHOUT-liedjie kan in digitale en CD-formaat gekoop word. Dit kan afgelaai word deur SHOUT na 33335 te SMS (teen ’n tarief van R20). Dit kan ook op CD by enige Pick n Pay gekoop word.

[box:full:grey:both]

Sê nee vir misdaad: Rapporteer enige verdagte gedrag deur Crime Line anoniem by 32211 te SMS.

[/box] [box:full:grey:both]

Hier is ’n agter-die-skerms-kykie op die stel van die nuwe SHOUT-video

[/box]