bok_in_grimering_01
Het jy gehoor?

Agter die skerms by Platteland

Martie vertel:

Voor ‘n plaasskuur naby Verkykerskop staan ‘n bakkievrag vol rubberstewels.  Dit speel ‘n groot rol in die reuse-produksie van die musiekblyspel Platteland.

Die reën val in vlae oor die Suidoos-Vrystaatse berge. Binne-in die skuur is ‘n tydelike kafeteria, spysenierskombuis, garderobe en grimeerarea opgestel. By tafels sit akteurs met skootrekenaars en Twitter en Facebook tussen grimeersessies en tonele.

Sean Else hou die swaar wolke dop. Elke minuut tel as mens die skedule van ‘n rolprentproduksie wil laat klop. Sy eerste vollengte rolprent, Platteland, se skedule is haarfyn beplan. Die swaar reënval tydens die skote in die Harrismith-distrik het die program nog nie erg ontwrig nie. Sy span draf in die modder rond in hulle rubberstewels. Saam vorm hulle ‘n geoliede masjien wat werk aan wat kenners glo een van dié Afrikaanse rolprente gaan word.

Die crew bestaan uit sowat 70 mense en 33 akteurs neem aan die produksie deel. Soos met enige rolprent is dit ‘n logistieke uitdaging van tientalle vragmotors en bussies wat die span en toerusting na minstens tien locations moet vervoer.

Weerkaarte en sonroetes is bestudeer. ‘n Noodhulpman en geweerspesialis (daar word baie geskiet in veral die plaastonele) is byderhand. ‘n Tydelike produksiekantoor is in die Verkykerskop-landbousaal opgerig en produksie-assistent Ruan Crane en produksiekoördineerder Soné Combrinck sorg dat alles glad verloop.

“Eintlik is die sagte lig van die reën goed vir die kamera,” vertel Sean haastig tussen skote deur. Hy is immer op ‘n drafstap en van sy spanlede beken hulle kan nie byhou by sy energie nie.

“Dis vir my ‘n groot droom wat waar geword het. Ek geniet elke oomblik,” beken die man wat ons eers as ‘n lid van Eden en daarna as ‘n gedugte musiekvervaardiger leer ken het. Die musiekvideo’s wat hy al vir Bok van Blerk en Liani Mey geskiet het, het hom ‘n wavrag kennis gegee vir Platteland. Hy is regisseur en skrywer en Deon Opperman is mede-skrywer van die draaiboek van dié musiekblyspel wat wentel om ‘n spanningslyn tussen good en bad guys met ‘n romantiese twist tussenin.

Bok en Liani speel die romantiese hoofrolle en veteraan-akteur André Odendaal, wat die sangers in toneelkuns touwys gemaak het, is baie beïndruk met hulle spel.

“Julle moet beslis vir Vaughan Gardiner en Karlien van Jaarsveld ook dophou. Hierdie mense het bewys hulle kan nie net sing nie,” vertel hy terwyl sy grimering vir die bose karakter, Rot, opgeknap word. Hy speel bad guys soos Rot en sy karakter in Getroud met Rugby graag, “maar soms wil ek ook ‘n goeie ou wees,” kla hy kamma, maar mens kan sien hy geniet hom gate uit met Rot.

Bok het duidelik ewe veel pret op stel. Hy spring soms sommer self in en skuif props rond. Hy lag effe verleë oor sy status as romantiese held. In van die eerste tonele was hy in ‘n kamma-vuisgeveg en het ‘n lelike sny op sy lip opgedoen. Daarna moes die grimeerkunstenaars dit elke dag regdokter.

“Dit maak die soentonele bietjie moeilik,” vertel hy. Net die soentonele? Sy meisie in die werklike lewe, Hanna Grobler, is mos ook op stel en die tweetjies is erg verlief.

Nog verliefdes op stel is Sean en die grimeerkunstenaar Carla Halgryn. Carla vertel hoe pootuit hulle elke aand op die bed neerval, maar hoe opwindend die projek is.

Sean en sy span het in November met die pre-produksie begin en beplan om die laaste skote teen einde van die maand te skiet. Vir sowat 25 lang werksdae het bekendes soos Steve Hofmeyr (hy is die ultimate bad guy), Jay du Plessis (nog een van Steve se kinders, spot hy), Ivan Zimmerman, Izak Davel, Paul Luckhoff, Viljé Maritz en Cobus Visser op stel ingeval.

Ongeag die lang ure, reën en soms hitte, heers ‘n professionele, maar ontspanne atmosfeer agter die skerms van Platteland.

Die geesdrif is so aansteeklik dat mens lus kry om ook rubberstewels aan te trek en in te val.

Phyllis vertel:

Dit is die fliek op almal se lippe. Al die groot name soos Steve, Bok, Lianie May, Hanna Grobler, Ivan Zimmerman en Karlien van Jaarsveld is daarin te sien.

Die SARIE-span het Dinsdag (8 Feb) op die stel van Platteland gaan kuier. Die dag se verfilming het plaasgevind in Pretoria, by Mike (Steve Hofmeyr) se mansion.

Karlien van Jaarsveld, Viljé Maritz en Hanna Grobler was almal op stel tydens ons besoek. Hanna speel Louise, Mike se wulpse vrou. Karlien is Rolene, Mike se dogter, en Viljé is Wynand wat by Rolene aanlê.

Die grimeertent en garderobe was onder in die parkeerterrein van die huis opgestel. Almal moes eers ‘n draai daar maak om in karakter te kom. Hanna vertel Louise is ‘n kleurryke vrou wat van wilde klere en wilde naels hou. Vir die toneel moes sy weer haar luiperdvel-patroon naels opsit en die “big hair” waarvan Louise so baie hou. En natuurlik hoe hoër die skoene hoe beter.

Sean Else, die regisseur se sangmaat, Ampie, het ook op die stel gekuier. Hulle het reeds hulle eerste CD saam opgeneem en dié CD sal volgende maand bekendgestel word.

Kyk net hoe gaan dit agter die skerms:

Bok van Blerk
André Odendaal Agter die skerms by Platteland
Bok van Blerk op stel Bok op stel
Jay en André Odendaal
Jay speel Steve se seun Produksie kantoor in Vrede
SARIE joernalis, Martie Swanepoel op stel &aposn Sterftoneel word voorberei
Omgewing waar Platteland verfilm word Omgewing waar die fliek verfilm is
Agter die skerms by Platteland Sean Else
Sean Else Sean Else is die regisseur
Die skurk kruip agter die tenk weg Karla kry die tenk reg
Verfilming Verfilming
  • Odu Mont

    Kan nie wag nie, wanneer kan ons die fliek sien?

  • http://crewsinnbnb.co.za Dave Price

    Sien uit hierna!!

  • http://fzldescwfzjj.com/ ubsatvxa

    XI8gFN dnwwiwbhnjbh, [url=http://pjkyfazbusiw.com/]pjkyfazbusiw[/url], [link=http://skvypqjsgyni.com/]skvypqjsgyni[/link], http://tzecmprwuyzk.com/

  • ucmcdjuy

    49cyBJ fwiqduljzbzt, [url=http://peeqvylmywsj.com/]peeqvylmywsj[/url], [link=http://vtlkbvhmcjgg.com/]vtlkbvhmcjgg[/link], http://mydlafonejle.com/