Andries en Curtis

Het jy gehoor?

Agter die skerms by Andries Hendrik Potgieter se nuwe musiekvideo

’n Musiekvideo gekombineer met ’n mode-fotosessie. Dís presies wat jy van model en sanger Andries Hendrik Potgieter kan verwag. En alles met die hulp van ’n talentvolle jong man en geesdriftige entrepreneur.

Andries het onlangs sy nuwe musiekvideo vir sy liedjie Liza se klavier geskiet, maar toe kombineer hy sommer dié dag met ’n fotosessie. Die Durbanse fotograaf, Vernondo Boshoff, het die fotosessie behartig en daar was allerhande elemente betrokke – van ’n trein en ’n swembad tot gekleurde verf en selfs vuurwerke.

Andries het alreeds sy merk op die plaaslike en internasionale modebedryf gemaak toe hy aan Suid-Afrika én New York se Modeweke deelgeneem het.

Tog was die spesiaalste deel van die dag eintlik die musiekvideo en die feit dat die regie deur die geesdriftige 19-jarige Curtis Woodside behartig is. Soos baie jongmense is Curtis se droom om ’n wêreldbekende akteur en regisseur te word, maar dit lyk asof Curtis dit vinniger as meeste gaan verwesenlik.

Hy het reeds op ’n baie jong ouderdom vir Celine Dion ontmoet en in 2012 ’n dokumentêr oor haar, Celine Dion: The Journey Continues, gemaak. Hy het dit self in Las Vegas aan haar oorhandig.

“My droom is om eendag dit te kan doen waarvoor ek lief is,” se Curtis.

Die musiekvideo saam met Andries Hendrik is ook daarop gemik om ’n naam vir homself in die Afrikaanse bedryf te maak.

“Andries Hendrik is ’n wonderlike, inspirerende mens. Ons het baie oor die musiekvideo gesels, maar om hom in die regte lewe te ontmoet, het vir my baie beteken. Dit was maklik om saam met hom te werk; hy het dadelik my visie verstaan en het alles met ongelooflike geduld aangepak. Ek hoop ons kan nog baie projekte saam aanpak,” sê Curtis.

Vandat hy met sy loopbaan begin het, het Andries daarop gefokus om jong mense hoop te gee en hulle ook te help om hulle drome te verwesenlik.

“Ek wil vir jongmense wys dat daar wel hoop en ’n toekoms is as hulle kreatief dink, hard werk en nie toelaat dat enige mens hulle van hul drome laat afwyk nie. Dis wonderlik om met ’n jong man soos Curtis te werk wat nie op sy rug lê en niks doen nie. Hy is daadwerklik besig om sy loopbaan te bou en sy toekoms te verseker,” sê Andries.

Curtis is gekeur om aan die New York Film Academy te studeer en is tans besig met projekte om die nodige fondse vir sy studies in te samel.

Agter-die-skerms-foto’s van die musiekvideo

Andries Hendrik in aksie by Rovos Rail

Andries in aksie by Rovos Rail

Die hele span werk saam om alles perfek te laat lyk

Die hele span werk saam om alles perfek te laat lyk

Hare (Louise Pieterse) en make-up (Lyndi Lee Smit) word gedoen terwyl Curtis dit verfilm

Hare (Louise Pieterse) en make-up (Lyndi Lee Smit) word gedoen terwyl Curtis dit verfilm

Andries en Curtis

Andries en Curtis

Vernondo Boshoff (fotograaf) saam met Curtis

Vernondo Boshoff (fotograaf) saam met Curtis

Andries in aksie by Rovos Rail

Andries in aksie by Rovos Rail

Andries trotseer die koue vir die James Dean-geinspireerde fotosessie
Andries trotseer die koue vir die James Dean-geinspireerde fotosessie

Meer oor Andries Hendrik Potgieter