Het jy gehoor?

Agter die skerms by Jak de Priester se nuwe musiekvideo

Die gewilde Afrikaanse sanger Jak de Priester het onlangs sy nuutste musiekvideo geskiet – en wel vir die treffer “Tot die dood ons skei”, wat op sy album Ek reis na gister verskyn. SARIE.com kan die agter-die-skerms-foto’s deel. 

Die “Tot die dood ons skei”-musiekvideo gaan oor ’n jong paartjie: hy is ’n musikant en sy ’n aktrise. Die jong aktrise word vertolk deur Beáte Olwagen. Ongelukkig sterf die jong sanger en die aktrise moet sonder hom lewe. Jare later is sy by ’n fotosessie vir ’n bekende tydskrif en begin terugdink aan haar verlore liefde. Brümilda van Rensburg speel die volwasse aktrise.

Die sanger en akteur John-Henry Opperman, wat bekend is vir sy rol in Roepman, is getroud met Beáte. Hy is die regisseur van Jak se musiekvideo. Dié paartjie bied ook saam die kykNET-program Kampkos aan.

Dit is nie die eerste keer dat John-Henry en Brümilda saam werk nie. Hulle het saam in die fliek Musiek vir die agtergrond gespeel.

SARIE se fotograaf, Phyllis Green, is ook in dié video te sien as die fotograaf wat die aktrise afneem. Phyllis het tussen die verfilming van die musiekvideo deur foto’s geneem van al die aksie agter die skerms en vertel hoe dit gevoel het om vir ’n verandering vóór die kamera te wees:

“Dit was ’n baie interessante proses om deel van Jak se video-opname te wees. Boonop wou ek nog altyd vir Brümilda afneem, en dit was ’n goeie geleentheid om dit te doen. Wanneer ek ’n gewone fotosessie doen, is ek normaalweg in beheer van die hele proses, daarom was dit ’n interessante ervaring om onder leiding van John-Henry Opperman, en binne die beperkinge van die stel, te skiet. Ek moes foto’s neem, én is ook self afgeneem. Dít was vir my die moeilikste, want ek is gewoond daaraan om net agter die kamera te wees. Ek het opnuut respek vir akteurs, sangers en videograwe!”

Kyk hier na die agter-die-skerms-foto’s:

 

Jak de Priester voor die vleuelklavier
FOTO: Phyllis Green

Jak de Priester met sy kitaar tydens die verfilming van "Tot die dood ons skei" FOTO: Phyllis Green

Beáte Olwagen speel die jong aktrise. HIer is sy saam met Jak de Priester
FOTO: Phyllis Green

Beáte en Jak hard aan die werk
FOTO: Phyllis Green

Beáte en Jak speel 'n verliefde paartjie in "Tot die dood ons skei".
FOTO: Phyllis Green

Jak voor die vleuelklavier, die regisseur John-Henry Opperman en die kameraman Regardt Botha
FOTO: Phyllis Green

Jak de Priester en Brümilda van Rensburg
FOTO: Phyllis Green

Grimeerkunstenaar Jolanda Bedeker het gesorg dat Brümilda (soos gewoonlik) fantasties lyk
FOTO: Phyllis Green

Stilis Werner Dey het gesorg dat Brümilda op haar heel beste lyk
FOTO: Phyllis Green

Haarstilis André Green maak seker dat elke haartjie in plek is
FOTO: Phyllis Green

Jak de Priester saam met grimeerkunstenaar Jolanda Bedeker, Brümilda van Rensburg, haarstilis André Green en stilis Werner Dey
FOTO: Phyllis Green

Brümilda van Rensburg saam met Elzabé Zietsman. Die musiekvideo is by Elzabé se gastehuis, Zietsies, in Johannesburg, geskiet
FOTO: Phyllis Green

Die hele span wat aan die video gewerk het: Werner Dey, Beáte Olwage, André Green, Brümilda van Rensburg, John-Henry Opperman, Jak de Priester, Elzabé Zietsman en Jolanda Bedeker
FOTO: Phyllis Green

Brümilda van Rensburg smeul voor die kamera
FOTO: Phyllis Green

Brümilda van Rensburg
FOTO: Phyllis Green

Brümilda van Rensburg
FOTO: Phyllis Green