FOTO: http://dunsterjenna.wix.com/

FOTO: http://dunsterjenna.wix.com/

Het jy gehoor?

Aktrise Jenna Dunster nou ’n onnie: “Kinders hou my gesond”

Die aktrise Jenna Dunster hou sedert Januarie vanjaar skool by My Tutor and Teaching Centre in Linden, Johannesburg, en sy is mal daaroor, vertel sy aan SARIE.com. 

“Ek werk met gr. 4 tot 6 kinders en gee Afrikaans en drama. Dit is die beste ding wat ek kon doen. Ek is so verlief op die amazing kinders. Elke dag is ’n avontuur. Daar is niks so wonderlik soos ’n kind se energie nie. Ek lag, dans en speel elke dag, maar die roetine vat aan my. Ek is glad nie so ‘bedraad’ nie. Maar die kinders is so liefdevol, oulik en slim op so baie verskillende maniere en dit maak al die ander werk die moeite werd.”

Jenna glo die belangrikste deel van toneelspel is die kuns van luister. En om regtig goed te kan speel, moet ’n mens vry kan wees, meen sy. “My doel in die dramaklasse is nie om akteurs te skep nie. Ek fokus op selfbeeld en lag en stories vertel. Ons praat oor ons drome en luister na musiek en sing saam. Dit is ’n klas waar niemand veroordeel word nie en waar uitdrukking baie belangrik is. Dit is wonderlik. Ek het nog altyd besef ek moet baie tyd saam met kinders spandeer om gesond te bly en dít is absoluut wat ek nodig het. Die geldelike sekerheid is ook ’n bonus.”

Haar eerste liefde sal altyd wees om toneel te speel, maar om skool te hou is “sonder die ego”. “Om myself op dié manier te bewys is so anders. Jy moet regtig net mooi luister en eerlik speel en die resultate is nie my eie beeld op die skerm nie, dit is iets heeltemal anders. Ja, ek het seker gemaak toe ek die kontrakte geteken het dat ek nie toneelspel gaan laat staan nie (ek sal mal raak as ek dit moet doen!), so ek kán steeds toneelspeel as die kans daar is. Later vanjaar skiet ek ’n movie, getiteld 25 minute. Dit is ’n pragtige storie en ek sien baie uit. Daar is ’n paar interessante dinge om na uit te sien …”

Haar droomrol? “Karakters wat glad nie soos ek is nie. Of mense wat ek nie elke dag ontmoet nie. Ek hou van moeilike rolle. Ek is ook lus vir komedie.”

En die beste loopbaanraad wat sy eerbiedig:

“Wees eerlik en genadig in alles wat jy doen. En lag, heeltyd.”