vicky_davis_3_web
Het jy gehoor?

Aktrise Vicky Davis is swanger!

Aktrise Vicky Davis het in Mei verloof geraak aan die musikant Schalk Joubert, en nou het dié paartjie aangekondig dat hulle swanger is!

Schalk het op sy Facebook-blad geskryf dat hulle ’n dogtertjie verwag en dat ma en dogter tot dusver gesond is. Hy het ook hul gesinne en vriende bedank vir hul ondersteuning en dat hulle dié swangerskap tot nou geheim gehou het.

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

Toe SARIE.com net ná die verlowing met Vicky, wat ook ’n skrywer is, gepraat het, was sy baie opgewonde oor hul troue. Alhoewel sy en Schalk al baie oor trou gepraat het, was sy nie seker wanneer hy sou vra nie, daarom was dít steeds vir haar ’n verrassing.

Sy onthou hoe hy haar die ja-woord gevra het: “Ons het ’n alleen-naweek saam deurgebring op die plaas buite Stellenbosch waar Schalk woon. Ons het oudergewoonte gaan wandel op ’n roete waar ons al jare met sy honde gaan stap as ek daar kuier. By ’n rusplek met ’n baie mooi uitsig van die wingerde het hy my gevra.”

Sy het onmiddellik ja gesê. “Ek hoef nie daaroor te gedink het nie,” verduidelik sy en wei verder uit. “Dit voel soos ’n baie natuurlike stap. Dit voel reg.”

Vicky het aan SARIE.com in Mei vertel dat hulle hoop om in die lente in die Boland te trou. Hulle wil dié geleentheid ’n private en intieme feesviering vir hul familie en goeie vriende maak.

“Ons neem nou een ding op ’n slag, al is daar baie om te doen.”