Zooey Deschanel
Het jy gehoor?

Aktrise Zooey Deschanel se 2 nuwe rolle: vrou en ma

Dis ’n goeie jaar vir Zooey Deschanel! Die New Girl-aktrise is nie net ’n pienkvoet ryker nie, sy het ook in die geheim met die regisseur Jacob Pechenik getrou, berig E! Online

Die paartjie, wat verlede jaar begin uitgaan het, is glo baie privaat, maar dit is bekend dat hulle vanjaar op haar verjaardag, 17 Januarie, verloof geraak het. Hulle is intussen in die geheim getroud én Hollywood Life berig die 35-jarige aktrise het verlede week die lewe aan hul dogter geskenk.

En sy is glad nie haastig om van haar swangerskapgewig ontslae te raak nie. Sy het onlangs in ’n onderhoud met die Amerikaanse tydskrif Cosmopolitan die volgende gesê: “Ons het al almal daardie foto’s gesien van ’n sexy, nuwe ma wat ná ’n maand in haar bikini pronk. Ek sal nie daardie persoon wees nie … Ek het nog altyd net my eie ding gedoen en het nog nooit begeer om verskriklik maer te wees nie.”

Ons hou van dié houding!

Zooey was voorheen met die Death Cab for Cutie-hoofsanger, Ben Gibbard, getroud, maar hul paadjies het in 2012 geskei.

Bronne: E! Online, Hollywood Life en Cosmopolitan

Lees ook