FOTO: Charmaine Spangenberg Photography

Het jy gehoor?

Aletté-Johanni blog: Hoofstuk 2 in die “Waarheid oor die Wincklers!”

Lees Aletté se Hoofstuk 1 in die “Waardheid oor die Wincklers” HIER

 
“Hier’s ek weer, hier’s ek weer
met my groot pens (én boude, arms, bobene en sommer áls)
voor jou deur.
Jy wou my (dalk nié) hê
Jy gaan my kry…”

39 weke… Al wéér 39 weke… Op 12 April 2012 het ek ook vir julle op hierdie dag geskryf. Ek het besef as ek nie dié hoofstuk, “Die Waarheid oor die Wincklers klaarmaak nie, gaan julle dalk wag dat Reuben julle eendag self kan vertel van al die opwinding wat hy vanuit my buik gehad het. Intussen mag jul gedagtes dalk só op hol gaan dat ons binnekort die nuutste skinderblad se hoofstorie ’n run kan gee vir hulle geld. So eerder uit die mamma-mêrrie-perd se bek:

Met ons vorige “afspraak” was ons huislening-aansoek by die bank en die prokureur. Om hierdie langdradige uitgerekte Wincklers-> Rekenmeester-> Bank-> Rekenmeester-> Bank-> Wincklers-> Rekenmeester-> Prokureur-saga kort te knip: Ons was geweeg en (VIR EEN KEER IN MY LEWE!!!) te lig bevind! Toe ek en Heinz ons vorige eiendomme gekoop het, was dit nog in die “ou” regime. Daar was salarisstrokies en werkskontrakte en geen kredietwet wat ons agter elke hoek en draai wou raps nie. Onder die huidige stand van sake is albei van ons (op ’n ander dag met ontságlike dankbaarheid) ons eie base en alhoewel dit nou al die geval was vir ’n hele paar jaar, wou die banke nie vir twee kreatiewe kreature enige krediet gee nie.

En nét daar is ons drome én ons droomhuis vir eers aan skerwe. Almal word laat weet, ons gaan eers bietjie bly, eers bietjie spaar en eers bietjie beter op papier lyk voordat ons wéér die ego-brekende proses by die bank aan die gang sit en weer probeer. Intussen word hierdie babatjie in my baarmoeder nie kleiner nie. Mamma berus maar in die wete dat ek hom saam met my bekende bekroonde dokter in die lewe sal bring – dié gedagte troos my darem ’n bietjie.

Toe ons egter vir die baas van die plaas (a.k.a. die man vir wie ons maandeliks ’n aardige bedrag oorbetaal om in sy huis te kan bly) laat weet ons gaan nóg ’n bietjie broei nadat ons vroeër laat weet het ons gaan ons vlerke sprei, het hy ander planne gehad en ons soos ’n mamma-voëltjie uit die nes geboender (God moves in mysterious ways). ’n Halfuur ná ons hierdie nuus hoor, laat weet die Kaapse agent dat ons ons “droomhuis” kan huur met die opsie om dit bietjie later te koop en skielik is ons weer in die Kaap…

FOTO: Charmaine Spangenberg Photography

FOTO: Charmaine Spangenberg Photography

Teen hierdie tyd loop mamma se swanger-hormoon-emosies hoog en sak ek sommer net daar ineen, want ek kan nie hierdie kom-of-gaan-konsternasie hanteer nie. WAARHEEN NOU??

En daar aan die einde van November ry ek in die strate van Johannesburg rond en “Die groot trek weer Kaap toe” van Bok van Blerk blêr op die radio en ek weet dis my teken – soos Gideon van die Bybel se wolvliesie – ons moet gaan!

Die gedeelte wat die storie egter ’n klein bietjie meer ingewikkeld maak, is die feit dat ons laat in September gehoor het dat die hele gesin binne die volgende 6 maande (vanaf September) in die VSA móés wees om ons groenkaarte (waarvoor ons al 5 jaar wag) te aktiveer. Ons was op pad om saam met ’n ander tydskrif na Europa te toer, en Heinz was verder volgeboek vir Desember. Ek kon nie meer ná 20 Januarie vlieg nie en dit het ons dus gelaat met een klein venstertjie: 31 Desember 2013 – 18 Januarie 2014. Hierdie klein venstertjie het ons egter met nóg ’n kleiner venstertjie gelaat van 19 Januarie 2014 tot 24 Januarie 2014 om slaggereed te wees vir Pickfords se span om ons huis rot en kaal te dra vir “Die groot trek weer Kaap toe”.

Ons moes Europa noodgedwonge vaarwel roep. Daar was nou nie ’n manier dat ons 10 dae in Europa kan rondkerjakker, slegs een week hê om bykans twee maande se begroting te laat klop, dan 3 weke in die VSA ons lywe ryk hou, én dan terugkom en trek na ’n ander PROVINSIE met twee klein kindertjies en ’n hoogswanger vrou nie. Kapeesh? Dus het ons besluit om ons werk en vakansie in Desember te kombineer en dit van daar af te vat.

Dit was op pad na hierdie working-holiday in die Kaap dat ons op die ingewing van die oomblik besluit dit is nie ’n goeie idee om die reis in een dag te probeer indruk nie. Ons besluit laataand om in beautiful Beaufort-Wes oor te slaap. Die volgende oggend was ons vroeg weer in die pad, maar ná ’n opwindende oggend saam met Barney kom die verkeer tot ’n halt. Net voor Laingsburg is daar ’n massiewe vragmotorongeluk (julle het daarvan in die nuus gelees) en die wrakke staan ’n hele brug vol – niemand kan verby nie. Twee-en-’n-half uur en twee-en-’n-half geïrriteerde kinders later is ons net te dankbaar om daar uit te kom en baie bekommerd oor die duisende busse, vragmotors en karre wat nog baie meer ure daar moes wag.

By Laingsburg aangekom, is die Wimpy ons beste vriend en die kinders nuttig ’n paar minute die bekende speelgoed. In die kleedkamer loop ek ’n goeie vriendin se sussie raak (wat ek darem al een keer vantevore ontmoet het) en ná ons “kamerverlaat-sessie” drink ons gou ietsie saam by die restaurant. Heinz, wat die kar vol diesel moes maak, kom doodsbleek by die Wimpy in. “Jy sal nie glo wat nou net gebeur het nie!” Nou, teen hierdie tyd is daar werklik bittermin dinge wat my nog kan skok, maar ek knik my kop in ’n negatiewe rigting. Die petrol-joggie het sy naam goed gestand gedoen en petrol in ons baie duidelik gemerkte dieselvoertuig gegooi. Dis nou nogals ’n beslommernis…

’n Paar oproepe en gesprekke met plaaslike dieselwerktuigkundiges later word daar bepaal dat ons bus met ’n dra-bed (of so iets) na Somerset-Wes vervoer moet word, want dáár is die naaste hulp. Die eienaar van die motorhawe is dierbaar genoeg om aan te bied om Heinz persoonlik daarheen te vat met die kar (of eerder vooruit) en dit laat my en die kinders in die middel van nêrens.

As ons natuurlik nóú terugkyk, sien ons die hand van die Here in als, maar op daardie tydstip in 38° C is niks sulke dinge snaaks nie. My vriendin se sus en ma bied aan om my en die seuntjies by Bettysbaai af te laai aangesien hulle op pad is na Kleinmond, wat reg langsaan is. My man dring daarop aan dat ons saamgaan en daar is ons 3 grootmense (waarvan een groot pens) en 4 kinders in ’n 5-sitplekkar. Die verskriklike vriendelike vreemdelinge maak die rit so gerieflik as moontlik vir hierdie mamma met twee (drie) apies op haar skoot en met groot dankbaarheid word ek 3,5 uur later by ons bestemming besorg. Heinz kom minder as ’n uur later moeg en warm ook daar aan.

Ons kyk na mekaar en skud ons koppe voor ons in mekaar se arms val en troos bymekaar soek.

’n Paar dae later is ons bus weer in volle vaart en vat ons die N2 op vir ’n bietjie werk en speel. Dit was juis tydens hierdie vakansie-werkies in Mosselbaai net voor Kersfees dat ons dierbare eiendomsagent ons meedeel dat die knaap wat aan ons die huis moes verhuur nou weer skielik sy huis dadelik moes verkoop en dat ons wél Kaap toe gaan trek, maar nêrens gaan hê om te bly nie. Toe Heinz my van die gholfbaan af bel om my die nuus mee te deel, was ek yskoud. “Wat is U plan, Here?!” Ek het gehuil en gebid, en bietjie geskreeu, en nóg bietjie gehuil en gebid. Property24 kon NIKS vir my doen nie, want elke liewe eiendom wat net lyk of dit naastenby kan werk vir ons behoeftes is reeds gevat.

Elke agent verseker jou ook hierdie is nie die beste tyd om ’n huis te soek nie, ons moet eerder maar wag tot Maart/April. Die enigste probleem is, ons trek is geboek. Ons kennis is gegee. Ons wortels was reeds weg. Ons soek nog vir ’n paar dae rond tot ek onthou van die baie bekwame en bekende sakeman wat tydens ’n ontbyt vir ons vertel het dat hy ’n gemeubileerde huis in Somerset-Wes het wat ons enige tyd kan gebruik/leen/huur as die situasie homself sou voordoen. Wel… ek shou shê die s(h)ituasie was MOOI EN DUIDELIK en ons het hom dadelik op sy aanbod opgeneem. Al wat dit sou beteken is dat ons eintlik twee trekke gaan hê: Die oorgrote meerderheid van die Winckler-woning wat vir eers gespaar gaan word in ’n stoorkamer en dan die ander gedeelte wat saam met Pickfords afpiekel Kaap toe. Lekker man…

Ek dink ons moet hoofstuk 2 hier afsluit sodat die leser bietjie aan al hierdie frustrasies kan kou…en herkou…

(Ek skryf dadelik hoofstuk 3, so moet jou nie bekommer dat jy dalk nie gaan hoor hoe hierdie sage eindig nie!) THE PLOT (and the thighs) THICKENS…

Lees Aletté se Hoofstuk 1 in die “Waardheid oor die Wincklers” HIER