Lian (regs) en Simeon by Aletté
FOTO: Twitter

Lian (regs) en Simeon by Aletté FOTO: Twitter

Het jy gehoor?

Aletté-Johanni blog: Hoofstuk 3B in “Die waarheid oor die Wincklers!”

In die vorige aflewering van Aletté-Johanni Winckler se blog het sy vertel hoe sy en Heinz van platform na platform moes hardloop om hul vlug terug na Suid-Afrika betyds te maak. Vandag vertel Aletté wat ná die 18 uur lange vlug terug huis toe gebeur het.

(Lees die eerste deel van dié hoofstuk HIER)

Om almal om ons in die vliegtuig gelukkig te hou, het ek en my man LETTERLIK nie ’n oog toegemaak nie.

Ons het die Saterdagoggend in Johannesburg geland en my dinamiese ma het ons op die lughawe kom haal (nadat sy al twee weke by ons huis besig was om te pak). By die huis was Lian in trane toe hy sien hoe sy kamer opgepak is en amper niks van oor was nie. Die kinders is gebad en gevoed en saam met Ouma Parys toe sodat Pappa en Mamma kan pak. 12:00 was ek en Heinz in die bed tot so 16:00. Daarna het ons die gepak begin en tussen die jet lag tot 03:00 gepak. So het dit aangegaan vir 3 dae tot Pickfords se mooi blou trok voor ons deur kom stop het. (Ouma was dapper genoeg om die kinders se jet lag aan te pak, maar sy het hulle sommer binne ’n japtrap getem.)

Binne twee dae was ons huis leeg en skoon. Vreemd … om die waarheid te praat.
Heinz moes nog besigheid en vertonings in die Noorde afhandel, en ek, my ongebore baba, Lian, Simeon en Anna (ons huishulp) is met ons groot bus sak en pak Kaap toe met Oupa en Ouma agterna. Twee dae later het Pickfords gekom met die paar meubelmente, klere, speelgoed en ander benodigdhede, terwyl die meerderheid van ons eiendom eers gestoor word.

Die kinders was skielik in ’n vreemde kamer met ’n nuwe dubbeldekkerbed, ’n nuwe skool en nuwe maatjies. Hoewel dit als vir hulle lekker was, was dit uiters oorweldigend en was hulle in overdrive. Ek en my pens was pootuit en het nog nie eens herstel van die baie reis nie voor ons skielik in ’n nuwe omgewing gedompel is … sonder Heinz. Die kinders was sommer weer ’n paar keer per nag wakker en ek het telkemale vir Heinz presies vertel wat ek met die kinders wil aanvang (swanger vroue het mos geen filters nie) wanneer ons oor die foon gepraat het.

Toe hy ná 10 dae by ons aansluit, was al die bokse uitgepak en ons was gereed om hom te verwelkom. Gelukkig vir my, was hy vir ‘n ruk die nr. 1-teiken in die kinders se spervuur en kon ek weer (redelik) tot my sinne kom.

Intussen het die kinders ingeskakel by die skool en is hulle behoorlik soos visse in die water. Smiddae as ek hulle gaan haal, wil hulle byna nie huis toe kom nie. Ons weet waar alles is, en ALLES is binne vyf minute van ons huis af. Dis behoorlik ongelooflik? Al wat ek nie hou van op Somerset-Wes bly nie, is die feit dat ek nie meer my grimering in die kar kan doen nie. Daar is doodeenvoudig net nie genoeg tyd nie!

In die somer was ons smiddae op die strand … tot laat … en as Heinz die slag vir ’n Saterdagoggend by die huis is, ontmoet ons graag vriende op die mooiste wynlandgoed. Terwyl die kinders buite in die vars lug speel, deel ons ’n cappuccino in goeie Kaapse geselskap.

Ons lewens was in drie maande omver gegooi. Ons was gerek, getrek, gebrei, gevorm, geslaan, gebeitel, gekap en gesmee, maar vandag kyk ons (steeds) terug en dink dit was die beste besluit nog.

Intussen het GROOT (4,22 kg) Reuben Jacques Winckler by ons aangesluit en hou die nuwe lewe in die Kaap ander tipe uitdagings in met drie kinders.

Dis die hardste werk en terselfdertyd die mees asemrowende gevoel om my drie seuns saam met my in die bed te hê. Ons is opgewonde oor hierdie nuwe seisoen en hoofstuk in ons lewens en dankbaar vir al die wonderlike vriende wat ons reeds kon maak.
Ons soek steeds huis … Oh my GOODNESS, wat ’n proses! Ek het na elke liewe huis (met ons vereistes) op Somerset-Wes gaan kyk en ons kon nog net nie DIE huis kry nie … But soon and very soon … Ek voel dit so aan my @#* velle!

Daar het julle dit! Vier maande later. Die Wincklers het nie gevlug nie. Ons het nie weggehardloop nie. Inteendeel, ons het ons wortels dieper kom skiet om méér standvastig en sterk aan die ander kant uit te kom. En dit kan julle maar weet: dié Wincklers se stemme is nog lánk nie stil nie … (al vyf van hulle)

P.S Volg gerus my Facebook-blad vir gereelde blog-inskrywings oor die pad na herstel ná die derde baba.

Nóg hoofstukke in “Die waarheid oor die Wincklers”