FOTO:  Facebook

FOTO: Facebook

Het jy gehoor?

Aletté oor baba nommer 3 én haar nuwe boek

Aletté-Johanni en Heinz Winckler het minder as ’n maand gelede weer ouers geword – ’n derde seuntjie om hul gesin aan te vul. Sy gesels met SARIE.com oor klein Reuben én haar nuwe boek.

Lees die eerste deel van dié onderhoud hier. Hierin het Aletté gesels oor die moeilikste en maklikste dinge van ’n derde baba met twee ander besige mannetjies, Lian (3) en Simeon (1), in die ronde.

Beskryf Reuben in ’n sin

Reuben is rustig en tevrede en op hierdie stadium baie, baie soet … en natuurlik (vir ons) net pragtig!

Jy het gister gesê jy wil hierdie keer dinge anders doen in terme van gewig. Watter verskonings het jy in die verlede gebruik?

O jitte, as ek nou daaraan dink, was my verskonings legio. Dit het my 13 maande met Lian én Simeon geneem om die gewig te verloor en ek het seker elke keer eers werklik drasties begin verloor 6 tot 9 maande ná hul geboorte. Ek het gereken ek borsvoed, daarom ek moet ek eet, maar ek kan net so lekker borsvoed sonder suiker en allerhande ander sondes.

Ek wil hierdie keer ten minste binne 6 maande weer redelik normaal lyk. Ek kan onthou hoe ongemotiveerd ek gevoel het toe ek ná die ander twee se geboorte vroue moes gaan toespreek en dan moet tittewyt en dit voel net of NIKS wat ek doen enigsins help om beter te voel oor my lyf nie.

Wat is jou grootste droom vir jou gesin?

Sjoe, dis ’n gelaaide vraag! Ek, soos elke mamma daarbuite, het ontsaglik baie drome vir ons as ’n gesin, maar as ek ’n paar moet uitlig, sal dit wees dat ons mekaar en ander sal liefhê en aanvaar, soveel moontlik tyd saam sal spandeer en mekaar werklik inside out sal ken en verstaan. En dan hoop ek vir gesondheid en sekuriteit.

Ek droom dat my seuns mekaar sal hoog ag en waardeer en absolute bloedbroers en beste vriende sal wees en dat daar geen jaloesie en venynigheid onder hulle sal wees nie. Dít sal my ’n baie gelukkige mamma maak.

Aletté se boek Môre is Maandag, wat van haar SARIE.com-blogs insluit, is op die rakke!

alette winckler
Het dié boek vir jou spesiale betekenis?

Vir seker! Dis my eerste volwaardige boek (anders as LullaBybel). As ek mooi daaraan dink en hoe dit als gebeur het, staan ek eintlik nog stomgeslaan oor die feit dat die Here só iets moontlik gemaak het vir my. Dit was definitief nie deel van wat ek vir my lewe beplan het nie, maar sulke verrassings maak die lewe uiters opwindend. Ek is baie opgewonde oor die boek!

Wat maak skryf vir jou spesiaal?

As ek skryf, skryf ek soos ek praat, maar tog kom daar woorde en humor uit wanneer ek skryf wat die hele proses vir my baie opwindend en spesiaal maak. Daar is iets daaraan om jou gedagtes en gevoelens neer te skryf. Dit is asof die proses jou gedagtes organiseer.

Wat is jou inspirasie vir jou skryfwerk?

Ander mense wat geïnspireer raak deur my skryfwerk, inspireer my om meer en meer te skryf. Om te weet jy kan iemand help of in die regte rigting lei, is al inspirasie wat ek nodig het om te gaan sit en tik.

Jy kry goeie terugvoer – wat dink jy maak die boek so spesiaal?

Ek dink ek praat met die hart van ’n vrou wat eintlik so honger is vir aanvaarding en liefde. Daar is dikwels baie goed in ons lewe wat maak dat ons soveel “armer” is as wat ons kon gewees het as ons net ’n bietjie dieper gegrawe het. Ek dink die gemiddelde vrou daarbuite kan met my in die boek assosieer en dít is wat dit so gewild maak.

Wat is jou gunsteling-deel van die boek?

Sjoe, toe ek begin skryf oor die “diep” dinge, het my gees baie opgewonde geraak en ek het net weer besef watter passie ek vir die Here en sy dinge het.

As iemand ’n fliek van jou lewe (en boek) maak, wie moet jou rol speel? En wie moet Heinz speel?
Mmm, dis ’n lekker vraag! Heinz, definitief Matthew McConaughey en dan sal ek graag myself wil speel! [Sy lag.] Nee, ek sou dit LOVE as dit Jennifer Aniston kon wees. Sy sal net so ’n paar kilos moet optel vir die rol.