FOTO: Facebook

Het jy gehoor?

Aletté Winckler blog: eetprogram vs. eie wil

11 April 2014

Middag julle! Die naweek staar ons almal in die gesig en ek is veral opgewonde om my man te siene te kry…(vir so 10 minute of so, hierdie naweek) Ek dink hy gaan ook dankbaar wees om so bietjie (minder) van my vas te hou. Gisteroggend het ons (ek en my ma) lekker eiervrug, eiers en spek geëet. Gistermiddag n heerlike gemengde slaai met roomkaas en gisteraand het oupa Neels vir ons ’n fantastiese steak gebraai saam met ons immergewilde pampoenslaai. Vanoggend ’n lekker omelet, vanmiddag ’n BAIE lekker slaai met gaar hoender en vanaand is nog ’n misterie …

Ek moet sê, my moed breek ook maar party maal (veral as ek uit die stort klim en die kollosale spieëls konfronteer my van alle kante af – dan veral besef ek net weer Rome is nie in EEN dag gebou OF afgebreek nie, so ons gaan maar stadig maar seker afbreek aan hierdie rolle. Moet nie vra waar hulle is nie, hulle is daar in hulle volle glorie, maar anders as met die ander twee is ek baie liewer vir my lyf as ooit. Ek het altyd gewonder, as daar met mense soos Michelle Pheiffer en Gwyneth Paltrow onderhoude gevoer word en hulle reken hulle is meer gemaklik in hulle lywe soos hulle ouer word, wat is die geheim. Maar ek dink met die ouderdom kom die wysheid en die aanvaarding dat sekere dinge net NOOIT weer dieselfde gaan wees nie – en dis oukei. Ek wil net vir seker die beste weergawe van ’n mamma en ’n vrou wees wat ek kan wees en dan is ek baie gelukkig!

Naweke is altyd moeilik(er) SO BID MAAR ASB vir uithouvermoë … (Ek is natuurlik ’n groot voorstaander van eet alle etes reg en beloon jouself met een VET bederfete … Daai ete kom nader …

14 April 2014

Ontbyt – twee gebakte eiers, gebraaide kersie-tamaties, mozzarella kaas, komkommer en avo… Die aspersies was ongelukkig op… Gaan julle nóú vertel wat sê die skaal…vandag is immers Maandag!

alette kos

14 April 2014

MAANDAG!! Wel…dis is mos nou D-Dag, weeg-dag, oor-begin-dag…En ek is uiters dankbaar om te rapporteer dat die skaal altesaam 3kg minder van my weergee. Toe ek mooi oor die saak dink het ek besef dat Simeon in 2012 in April gebore is en teen September het ek soveel geweeg soos wat ek nou weeg EN ek het eintlik veel minder opgetel met die swangerskap…Daai tyd was ek meer bek as binnegoed….hoewel…DIT gee my moed. Dis nie maklik nie GLO my! Gister was ons by die asemrowende Val de Vie Landgoed net buite die Paarl (waar Heinz opgetree het) en dis nou nie asof hulle slaaie en groente adverteer en verkoop nie…eerder pasteie, koekies en ander dekadente sondes. Maar deur die genade het ons bly staan en kon ek met meer van ’n geruste hart daai vriend in my badkamer benader..AND there you have it! JUST DO IT!!

16 April 2014

Ooo, so dis belydenis tyd! Kyk wat laat die seuns se skool hierdie broos mamma maak?? En toe daardie Marshmellows (wat ek gewoonlik nie van hou nie) eers so tussen die botter begin smelt, was dit moeilik om my vingers uif die pot te hou! Hoe kan ek nou nie proe wat ek die skool bied nie!? (flou verskoning, ek weet!) Vandag sommer vinnig weer reg geruk en op dreef! Maar ek waarsku julle: my middelbaba word Sondag (op die feesvierende Jesus-het-opgestaan-dag) twee … en ek kan niks belowe nie …

FOTO: vergunning van Aletté Winckler

FOTO: vergunning van Aletté Winckler

17 April 2014

Mamma het gisteraand met ’n dik kop, ’n snotneus, ’n hoesie en ’n lekker hoofpyn gaan slap – way to start the long weekend…die dokter se medikasie maak my lomerig en daarom die effe afwesigheid vandag! Dis Paasnaweek en my man is vir ’n slag by die huis! Dis baie om te vier – met biltong en water… Hoop elkeen van julle rus oor hierdie naweek en besef weer opnuut wat Jesus vir ons gedoen het aan die kruis! Baie liefde

22 April 2014

En so beplan ek die Son(de)dag…die cheat-dag…haarfyn. Ek dink daaroor, ek droom daaroor en ek lek my lippe af in afwagting vir Sondag…Dis verjaarsdagkoek, geroosterde aartappels, Ouma Elsa Winckler se hummingbird-koek en die aand by die huis my en Heinz se tradisionele Sondagaand-pizza, paaseiers en ander sondes…Needless to say, “gister was Maandag” in elke sense van die woord..Ek het nie geweeg nie, want ek wil nie my moed breek nie, maar ons fokus nou weer tot 3 Mei…my seuntjies se verjaarsdagpartytjie…
Maar is dit nie vreemd nie; mens sien so uit na so ’n “ontspan” dag en dan is mens meeste van die tyd eintlik so teleurgesteld…Wat se hulle: “Nothing tastes as good as skinny feels…”
Enige van julle ook gecheat??

FOTO: vergunning van Aletté Winckler

FOTO: vergunning van Aletté Winckler

24 April 2014

Die emosies is maar all over the show, soos mens met ’n nuwe mamma kan verwag… Een dag versit jy berge (dit is gewoonlik die resultaat van ’n paar aande se beter slaap). Maar dan kom die dag wat jy vir twee aande na mekaar nie langer as 15 minute se slaap aaneen ingekry het nie en jou moed val in jou skoene. Hoe gaan jy ooit weer “terugkom”? Hoe gaan jy ooit weer by alles uitkom, hoe gaan jy ooit weer lekker voel in jou lyf, ooit weer krag of tyd hê en kwaliteit-tyd met jou man spandeer, sonder om in sy geselskap aan die slaap te raak? (gelukkig het my man ’n goeie selfbeeld en weet hy hy verveel my nie)
Op sulke dae is dit baie moeilik om my gesonde(r) leefstyl vol te hou…Dan soek ek trooskos in die vorm van baie, baie suiker. (Wees nie bevrees nie, ek sal staande bly)
En dan glimlag daardie klein baba-apie vir jou en maak die mooiste koer-geluide en elke druppel selluliet en elke liewe baba-rol, spatare en donker-kring-oog is die moeite werd…

28 April 2014

Gesonde eetprogram: 0 Alette se eie wil: 2

Lees nóg blogs deur Aletté