Lian (regs) en Simeon by Aletté FOTO: Twitter

Het jy gehoor?

Alétte Winckler gesels oor ma-wees vir 2 besige seuntjies én ’n nuwe baba

Aletté en Heinz Winckler het byna 3 weke gelede weer ouers geword – van ’n boetie vir Lian (3) en Simeon (1). Sy gesels met SARIE.com oor die nuweling, klein Reuben.

Is Reuben al in ’n roetine?

Net soos ons dink ons het hom nou mooi in ’n roetine, verras hy ons met ’n nag van geen slaap en baie huil … so ons vat nou maar ons tyd met die roetine.

Watter soort baba is Reuben?

Oor die algemeen baie rustig. Slaap wondelik onder die geklank van sy boeties se gelag of geskree. Hy sal net ongelukkig wees as hy honger is of krampies het.

Hoe verskil hy van Lian en Simeon?

Lian en Simeon het refluks gehad en ek het dit nog nie by Reuben opgetel nie, so ek het baie hoop wat dít aan betref. Lian wou net slaap as dit stil is en Simeon het nie so baie soos Reuben geëet nie – HY HOU NIE OP NIE!

Maar daar is ook baie ooreenkomste: Al drie het as babas gesnork soos varkies as hulle honger is (dis die cuteste ding); al drie se tone lyk presies dieselfde; al drie se kennetjies lyk dieselfde, alhoewel hulle almal eintlik heel verskillend lyk.

Wat maak baba nommer drie ’n uitdaging?

Simeon is veral nou baie veeleisend omdat hy nie meer die baba is nie en dit vat baie energie om hom te verseker ons het hom NET so lief soos altyd en dat hy altyd spesiaal gaan wees. Dis uitdagend as Heinz nie daar is nie en ek besig is om baba te borsvoed en een van die ander twee het iets nodig…Oh my…dan wil ek sommer huil 😉

Ek dink die grootste uitdaging is tyd met elkeen.

… en wat is dié keer makliker?

Reuben moet behoorlik net cope…en ek het geweet hy gaan so ’n soort mannetjie wees net omdat hy al in die baarmoeder moes cope met sy ma se dinge. Trek én oorsee gaan – ’n week uitmekaar. Ek het een dag só gehuil oor die baba binne my wat net moet cope met sy ma se gejaag en min slaap. Hy is ’n vegtertjie en ‘n absolute seën!

FOTO:  Facebook

Aletté probeer elke dag opstaan en mooi aantrek om nie in die ‘mamma-groef’ te val nie
FOTO: Facebook

Hoe het dit gevoel toe jy hom die eerste keer vashou?

Toe die dokter hom op my bors sit en hy my stem hoor, was hy onmiddellik stil. Die dokter het hom sommer so geraps om hom aan die skreeu te kry, want hulle moet mos eintlik skreeu, maar hy was net so tevrede.

Ek was in skok – oor die geboorteproses én oor hoe groot hy was. Met Lian en Simeon het ek elke keer begin huil, met Reuben was ek verlig dis verby en sommer happy om my seun UITEINDELIK te ontmoet. Dit het gevoel of ek 6 jaar swanger was!

Hoekom is julle só trots op Reuben?

Sjoe! Net om so ontsaglik ryk te voel met drie sulke pragtige seuns. Almal so uniek, elkeen op sy eie manier. Lian lyk nes Heinz en Simeon trek weer baie meer na my, en dit lyk vir my of Reuben ’n goeie kombinasie van ons albei gaan wees.

Ons was seker die trotsste toe Reuben ná ’n ekstra dag in die hospitaal met geelsug ontslaan kon word, en hoe hy gedurende badtyd sy pose hou. Ek kan sien hy wil eintlik bitter graag skreeu, maar dis asof hy dit verdra vir ons part.

Aletté, Heinz, Lian en Simeon 'n paar maande gelede  FOTO:  Salomien Smal – Of The Earth Photography

Aletté, Heinz, Lian en Simeon ‘n paar maande gelede
FOTO: Salomien Smal – Of The Earth Photography

Jy het op Facebook gesê jy wil dinge dié keer anders doen. Hoekom?

Ek het sommer vroeg begin om reg te eet en sien uit om ná my 6-weke-ondersoek weer my sterre in die Pilates-klas te kry en te werk aan my afwesige maagspiere. Ek het nou twee ander kinders wat groter is en meer as ooit wil hê hul mamma moet fisiek saam met hulle speel, en dit is net nie vir my moontlik as ek 15 of 20 ekstra kilogramme saamdra nie. Dus het ek besluit om daagliks op my Facebookblad te blog oor my reis na herstel – nie net oor die kos/oefening en lyf-dinge nie, maar ander goed wat laat vaar word wanneer jy uiters ongemaklik, opgeswel en moeg is.

Naels moet gedoen word, die holtes uit my hakke moet verdwyn, ek moet daagliks my vitamiene drink en sommer geforseer word om moeite te doen met my hare en grimering.

Anders is dit so maklik om in daardie “mamma-groef” te val en bietjies van jouself te verloor.

Dus gaan ek vir die mense op my bladsy daagliks als vertel en raad vra, en dan aan die einde van daardie week sal die hele week se blogs op SARIE.com verskyn – met lekker before- en after-foto’s!

Ons gesels môre verder met Aletté oor Reuben én haar nuwe boek, Môre is Maandag.

alette winckler