Het jy gehoor?

Alicia Keys nou een van die hoë koppe van Blackberry

Alicia Keys is nou amptelik deel van die BlackBerry-span en sal die leiding neem op verskeie besigheidsinisiatiewe. Sy is verantwoordelik om dié handelsmerk se beeld te poets en te bemark.

“Dit is my doel om kreatiwiteit op die platform (BlackBerry 10) te inspireer. Ek is so opgewonde, ek wil dadelik aan die werk te spring!” het dié bekende sangeres gesê.

Alicia, wat al 14 Grammy’s gewen het, het nie net ’n mooi stem nie, maar het ook ’n kop vir besigheid. Sy is een van min suksesvolle musikant-entrepreneurs wat buiten hul sangloopbaan ook aan die besigheid-kant van die musiekwêreld seëvier. Sy het as 24-jarige haar eie produksiemaatskappy begin en is ook mede-stigter van KrucialKeys Enterprises, ’n musiek- en liriekmaatskappy.  

BlackBerry is nie net gelukkig om Alicia se verbintenisse in die vermaak- en musiekwêreld by hul besigheid te voeg nie, maar ook haar teenwoordigheid op sosiale media en impak op kultuur sal hulle goed te pas kom. Sy kan dus dié selfoonhandelsmerk laat groei en ontwikkel, het BlackBerry se hoof uitvoerende beampte by die bekendstelling van die nuwe BlackBerry 10 gesê.

“Alicia sluit by ons aan omdat sy in die produk en die tegnologie glo … Sy onderskryf ook aan ons filosofie van “Hou aan beweeg”: om mense deur sellulêre tegnologie en kommunikasie te bemagtig,” het BlackBerry se grootbaas gesê.

Alicia het reeds aan haar meer as 11 miljoen volgers op Twitter gewys hoe dié foon werk (foto onder).

Alicia Keys werk op haar nuwe BlackBerry10

Dié 32-jarige gaan saam met app-ontwikkelaars , inhoudredakteurs, handelaars, én selfoonnetwerke werk.  

Die nuwe BlackBerry 10 het ook Suid-Afrikaanse sterre opgewonde. Die model Kerry McGregor, Cindy Nell en die sanger Louise Carver, wat ambassadeurs vir BlackBerry is, het almal op Twitter hul opgewondenheid uitgespreek oor die koms van dié nuwe foon.