13938555_611048162389632_1081737844151009371_n
Het jy gehoor?

Alison – ‘My lewe is vol wonderwerke’

“Jy kry nooit werklik sluiting ná ’n erge tragedie nie. Dit is ’n daaglikse keuse om te besluit met watter houding jy die lewe wil aanpak.”

Wie sal beter weet waarvan sy praat as Alison Botha, wat 22 jaar gelede buite haar huis in Port Elizabeth ontvoer en verkrag, talle keer met ’n mes in die maag gesteek en bykans keelaf gesny is?

Geklee in ’n swart bloes en broek, haar lang hare los en glansend en ’n bonkige turkoois halssnoer om haar nek (waar slegs ’n vae litteken van die sny waar sy aangerand is, sigbaar is), gesels sy spontaan. Sy onthou alles nog asof dit gister gebeur het …

In die dokkie Alison, wat tans vertoon word by die Silwerskermfees in Kampsbaai, vertel sy onder meer hoe sy ernstig met depressie geworstel het ná die grudade, maar sy het besef sy moes so hard veg om oorlewing net ná die aanranding, toe die twee monsters haar vir dood op die grond agtergelaat het, en sy het tóé gekies om te leef, sy moes weer kies om die depressie te oorwin.

En sy het.

Sy glo aan baie terapie en tyd om depressie te genees. “Om motiveringspraatjies te lewer het ook ’n nuwe lewe vir my oopgemaak.” Dit het haar ook die kans gegun om die wêreld vol te reis. En nee, dit is nie asof sy in ’n groef verval het en keer op keer die grusame aand herleef nie. Sy sal daardie aand nooit vergeet nie, maar sy het aanbeweeg.

Hoewel sy op skool nie juis geweet het wat sy met haar lewe wil doen nie, glo sy “nare goed wat jou onder die dinges skop”, wat jy nie vir jouself sal kies nie, is dikwels dinge wat jy nodig het om jou in ’n nuwe rigting te dryf sodat jy kan groei.

Alison reken ook haar ma, Claire, ’n enkelma, het haar grootgemaak met ’n sterk geloof in haarself. “Dit is hoekom ek, tydens die gru-aanval, dit op ’n manier reggekry het om myself te verwyder van ‘die daad’. Dit was nooit regtig deel van my wese nie. Ek was amper ’n waarnemer. Ek wil my kinders ook met soveel selfrespek grootmaak – dit help jou om nie te veel van koers af te dwaal as die lewe jou beproef nie.”

Alison droom daarvan om in die toekoms dalk ’n motiveringsboek óf ’n fiktiewe kinderboek te skryf, want sy is mal oor kinders. “En wie weet, dalk kry ek iewers geleentheid om ’n televisieprogram aan te bied waar mense hul hartseer deel en só ander bemagtig. Ek is oop vir enigiets wat oor my pad kom.”

Alison, Uga Carlini (regisseur) en Christia Visser wat die jong Alison speel

Alison, Uga Carlini (regisseur) en Christia Visser wat die jong Alison speel

Met dié dokkie wil sy vroue wys: “As ek so iets kan oorwin, kan enigiemand. Ek is trots op die dokkie en as ek kyk na wat ek reggekry het, dink ek ‘wow, dit is nogal iets!’ Jy besef nie hoe dapper jy regtig is nie. En almal het dit in hulle.”

Die ABC van motivering is attitude (houding), belief (wat jy oor jouself glo) en choice (wat jy kies).

“Jou omstandighede en wat met jou gebeur, bepaal nie so baie van jou lewensgeluk nie. Jy bepaal dit. En my storie is nie ’n feëverhaal waar ek met die held op die wit perd wegry in die pragtige sonsondergang nie, ek is trouens geskei. Dit was baie erg. Maar my storie is vol wonderwerke …”

* Marguerite het dié onderhoud met Alison tydens kykNET se Silwerskermfees gedoen.

Lees nou

Dis koue kos, skat se Marita verslaaf aan stories

Schalk en meisie gereed vir volgende fase

Fikse Deon speel in 4 rolprente