amalia uys

FOTO Marijke Willems

Het jy gehoor?

Amalia Uys verloof – en kyk die ring!

Die aktrise Amalia Uys is verloof aan haar kêrel van die afgelope twee jaar, Shaun Golding.

Die paartjie het al in Desember verloof geraak, maar het verkies om dit stil te hou tot nou. Amalia vertel aan SARIE se styl- en sosiale redakteur, Fanie Cronjé:

“Ons was in Desember by my ouers op die Weskus. Ek en Shaun het laatmiddag op die strand gaan stap en dis waar hy my gevra het om te trou. Ek is baie lief vir die Weskus en dis ook waar ek en hy ontmoet het. Daarom was dit vir my baie spesiaal. Plus ons het ons families naby gehad wat saam met ons kon feesvier. Shaun se ouers en my broer-hulle het die volgende dag deurgekom om saam met ons ’n glasie te klink. Ek kan nie my geluk glo dat so ’n mens oor my pad gekom het nie. Hy is my droomman. In elke opsig.”

Amalia vertel oor haar ring:

“Ek is absoluut verlief op my ring! Dit was ’n groot verrassing! Hy het so stilletjies met ’n juwelier gesit en dit saam met haar ontwerp.”

Amalia Uys verloofring

 

Sy het die verhouding lank uit die openbare oog gehou, maar verlede jaar met SARIE oor Shaun gepraat. Sy het toe gesê sy het nie spesifieke vereistes oor taal, belangstelling of voorkoms vir die man in haar lewe nie.

“Vir my gaan dit eerder oor die regte konneksie. As jy op die regte plek in jou lewe is, sal jy waarskynlik die regte mens ontmoet.” Dan is dit ook nie nodig om soveel aanpassings in jou verhouding te maak nie.

Die “regte konneksie” gaan oor ’n hartstaal. “Ek het al met Afrikaanse ouens uitgegaan wat nie my emosionele taal gepraat het nie, terwyl Shaun, wat Engels is, en ek wel kliek.

“Ek hou van gesond eet en is gesteld op fiksheid. Shaun, ’n watertegnoloog, neem deel aan avontuurwedlope en vandat ons begin uitgaan het, het ek besluit ek gaan ook nou harder begin oefen sodat ek saam met hom aan ’n halfmarathon kan deelneem. Ek het asma en het aanvanklik gewonder, sal ek dit kan doen? Gaan ek nie heeltyd my asmapompie by my moet hê nie? Maar nou het ek gesien ek sal dit aanstaande jaar kan doen. Hy het my gehelp om uit my gemaksone te kom.”

Ja, sy glo aan kompromieë, maar nooit moet jy jou identiteit in ’n liefdesverhouding verloor nie. Jy moet doen wat vir jóú belangrik is.

Oor Shaun sê sy:

“Hierdie man se kop is so reg aangeskroef en sy voete so plat op die aarde. Hy is my anker en my rots. Vir hom wil ek regte egte soene gee tot in lengte van dae!”

A photo posted by @amalia1uys on

Lees nou

Wat sê Amalia se kêrel ná haar soen-scene?

Amalia se senuwees as kêrel kom kuier

Aktrise Amalia Uys deel haarwenke vir dik hare