FOTO: Elaine Otto Photography

FOTO: Elaine Otto Photography

Het jy gehoor?

Andriëtte Norman gesels oor haar aanstaande

Die sangeres Andriëtte Norman trou die naweek met haar verloofde, Glynn. “Oor vyf slapies is ek ’n mevrou. Ek sien só uit!” het sy op haar Facebook-blad geskryf.

Sy het in die Junie-uitgawe van SARIE meer vertel oor die man wat haar hart gesteel het.

Glynn, ’n biokinetikus, gun haar haar sangloopbaan, al ken hy as Engelssprekende nie altyd die kunstenaars saam met wie sy optree nie. “Snotkop? Wie’s dit?”

En hy hou ook nie saans sy horlosie dop sodat sy haar ná ’n vertoning huis toe moet haas nie. “Hy vertrou my, soos ek hom.”

“Hy laat my so veilig voel,” antwoord sy op ’n vraag hoekom hy die een vir haar is. Daar is gedeelde waardes en belangstellings, ja. Hulle gesels en lag lekker, kan saam bid. In die moeilike bedryf waarin sy is, is hy ook ’n skuiling. “Hy is altyd net daar. As ek van ’n vertoning af terugkom, sal hy wag met ’n bos rose, my rug masseer. Hy is baie romanties en koester my heeltyd. Ek het genoeg van die ander kant gesien om te weet dis wat ek in ’n man soek.”

“Hy pas net oral in. Hy kan met enige mens oor enigiets praat. Tot jukskei. En daardie persoon sal daarna opstaan en dink: ‘Wat ’n oulike ou!'” straal sy.

Glynn wil sommer dadelik ná hul troue die gesin uitbrei. Maar sy wil eers nog ’n bietjie wag. Dalk wanneer sy dertig is. En dan, met daardie aansteeklike lag: “Dis volgende jaar!”

Aan haar slanke ringvinger pryk die ring: witgoud, met ’n groot diamant
in die middel en drie kleintjies aan weerskante. Hulle het nie weer met dieselfde ring verloof geraak nie. Hierdie een pas beter by die nuwe, meer volwasse Andriëtte, reken sy. Die vorige een, met diamante in ’n sirkel geset en diamantjies aan die hoepel-deel, was “jonger”.

En dis mos ook ’n nuwe avontuur!

Lees die volledige artikel in die Junie-uitgawe van SARIE wat nou op die rak is!

Karlien van Jaarsveld junie jun 2015

Lees ook