FOTO: Elaine Otto Photography

FOTO: Elaine Otto Photography

Het jy gehoor?

Andriëtte Norman pasgetroud en nou ’n kitsgesin + kenners se raad

Andriëtte Norman het die afgelope naweek met Glynn getrou. Glynn het reeds ’n seuntjie wat beteken dat Andriëtte nou ’n kitsgesin het. 

Sy het in die Junie-uitgawe van SARIE hieroor gepraat PLUS kenners gee raad!

Hier volg ’n uittreksel uit haar onderhoud met SARIE-joernalis Lydia van der Merwe.

[Andriëtte] en Glynn,’n biokinetikus, het sowat twee jaar gelede hul verlowing verbreek het. Skaars
 ses maande nadat hulle hul verlowing aangekondig het, was die kys weer
uit. Haar enigste kommentaar was
 toe dat Glynn ’n driejarige seuntjie* het wat hy alleen grootmaak. En sy was nog nie gereed vir die reuse-verantwoordelikheid wat so ’n kosbare kleinding verg nie.

Maar hy het nooit ophou probeer nie. En toe sy ’n tweede keer ja sê, was dit nie ’n impulsiewe besluit nie. Sy wéét nou: Glynn is haar Engel-man (haar troetelnaam vir hom). En as sy sy lewe deel, is sy kind deel van die pakket.

Hulle was albei in die Laerskool Bastion in Brackenfell, Kaapstad. Hy in graad 7 en hoofseun toe sy in graad 6 was. Terwyl sy en haar vriendinne met hul Barbies doenig was, het hy en haar broer, Harold, krieket in die agterplaas gespeel. Hulle is daarna na verskillende hoërskole toe.

Vier jaar gelede, in 2010, vra hy haar op Facebook om koffie te gaan drink. Sy was maar louerig, die kêrels het tougestaan en sy was nie lus vir ’n vreemde man op Facebook se uitnodiging nie. Maar hy was ook nie heeltemal vreemd nie, sy het sy naam onthou. Uiteindelik sê sy toe ja.

En toe, op die dag van die afspraak, sien sy op Facebook ’n profiel-foto van hom met ’n baba. “Wie se baba is dit?” vra sy. “Myne,” sê hy. Sy kanselleer toe die afspraak. “Jammer, man, ek kan nie meer gaan koffie drink nie.”

Tog het Glynn nie tou opgegooi nie.

In 2012 por hy: “Ek vra net dat jy op een date saam met my gaan.” En sy stem in. In Januarie 2013, skaars vyf maande later, was hulle verloof. Sy het die groot nuus met ’n “raai wat . . .” en ’n foto van die verloofring op Facebook aangekondig. Die middel van die jaar is hulle egter stil-stil uitmekaar.

“Sy kindjie was in daardie stadium maar drie, kléin. Ek het nog nooit ’n baba langer as vyftien minute vasgehou nie. Dit was net nie die regte tyd nie.”

Andriëtte het met ander ouens uitgegaan, maar hulle het steeds kontak gehad. Soms het hulle saam gaan fietsry. Hy het maar kanse probeer 
vat, lag sy. Waarop sy hom dan sou herinner: “Onthou, ons is net vriende.”

In September 2014 was hulle weer bymekaar. Andriëtte het nou vir seker geweet dié man is troumateriaal. Sy seuntjie was boonop groter, ’n mensie met sy eie persoonlikheid. Sy het besluit om te kyk of hulle oor die weg sal kom.

Duidelik het hulle toe wel gekliek. Sy wys foto’s van die knapie op haar selfoon. Donker hare en ogies, ’n mini-Glynn, glimlag sy.

“As ek en Glynn op die bank sit met hom in die middel, sal hy ons hande vat en dit inmekaar sit. En dit sommer soen ook! Hy is liefdevol, nes sy pa. En baie gehoorsaam.

“Hy noem my Hanreïete . . .”

Glynn het die seuntjie (nou vyf ) 
van sy geboorte af alleen grootgemaak. Daarvoor het sy die wêreld se respek vir hom, sê Andriëtte. “Hy kon hom laat aanneem het. Maar nee, hy het gesê die kind kan nie vir sy fout betaal nie.

“Dit alleen gee my sekuriteit. As
 ons getroud is, sal hy my nie sommer drop nie. Dis sy persoonlikheid, hy is ’n vasbyter. As ons vassit, sal hy sê: ‘Jy kan nie nou vir my kwaad wees nie. Kom sit hier, dat ons rustig daaroor gesels.’ Niks is vir hom te veel of onmoontlik nie.

“Glynn sê daar gaan nog baie klippe in my pad gerol word, dinge wat ek sal moet oorkom. Al wat hy van sy kant kan doen, is om my al sy liefde te gee en ’n goeie man te wees. Hy sal my 100% ondersteun, ook met die seuntjie.

As ek sukkel, sal hy daar wees.” Pa André, beskermend oor sy meisiekind, wou weet: Wat het intussen verander? Die kindjie is steeds daar. “Maar ek is meer volwasse. En nog ’n ding: My moederinstink begin inskop. Vantevore was kinders oulik, maar ek wou nie self een hê nie. Ek begin nou al lus kry vir my eie kroos. Dis byna ’n rustigheid in jou. Kinders voel nie meer soos aliens nie.”

Sy is dikwels by Glynn-hulle en wat aanvanklik moeilik was, raak al hoe makliker. Om vir die kleintjie kos te maak, met hom en die honde, Tekkies en Anna, te gaan stap, hom te bad.

“Vir ’n kind is alles mos nuut, hy lag oor als. Hy is ’n slim seuntjie, baie entertaining. ”

Maar sy is die eerste een om te erken alles is nie kinderspeletjies nie. “Dis ’n nuutjie om wakker te word en daar is iemand wat jou aandag verg. Daar was nie die gewone aanpassingstyd wat ’n ma voor die koms van ’n kleinding het nie. Jy is mos nie sommer net ’n kits-ma nie. Ek’t nie die voorreg gehad om hom van dag een af te ken nie. Ek moes inval toe hy reeds sy eie persoonlikheid gehad het. Dis ’n groot aanpassing, maar ek doen my bes.”

Dis boonop haar keuse, iets waaroor sy lank gedink het en wat sy met haar oë wyd oop aanpak. Daar is ook ’n goeie ondersteuningstelsel: Glynn se ouers, haar ouers, Alice [haar agent] ook.

“Ek wil vir hom ’n ma wees soos my ma vir my was. Ek wil hom nie minder liefhê of anders behandel as my eie kinders nie. Dis net so ’n groot werk en verantwoordelikheid soos jou eie kind.”

[...]

Glynn wil sommer dadelik ná hul troue die gesin uitbrei. Maar sy wil eers nog ’n bietjie wag. Dalk wanneer sy dertig is. En dan, met daardie aansteeklike lag: “Dis volgende jaar!”

*Sy weerhou Glynn se van en die seuntjie se naam om hul privaatheid te beskerm.

Raad van die kenners

8 wenke vir vroue met ’n kits-gesin

  • Moenie jou “kitskinders” se ma probeer wees nie. Vermy kritiek op biologiese ouers.

  • Jy gaan nie oornag “verlief” raak op jou man se spruite nie.

  • Stel saam nuwe huisreëls op en bespreek dit met die kinders. Dit gee hulle ’n gevoel van veiligheid.

  • Probeer voorkom dat enige gesinslid (ouers of kinders) in ’n posisie beland waar hulle kant moet kies. Dit skep verdeeldheid.

  • Kies ’n stokperdjie wat jy saam met elke kind (verkieslik individueel) kan beoefen. Dit bou ’n hegte band.

  • Bespreek hoe julle spesiale geleenthede soos Kersfees gaan vier en ou tradisies gaan voortsit. Begin ook nuwe tradisies.

  • As daar tameletjies opduik 
(die kinders reken dalk pa gee te min aandag aan hulle en bestee te veel tyd aan jou), reël ’n “vergadering’’ waarop julle dit uitpraat. Gee die kinders (afhangend van hul ouderdom) die kans om te sê hoe hulle voel. Moedig hulle ook aan om voorstelle te maak oor hoe hulle die situasie sou oplos.

  • Dit help nie jy gee soveel aandag aan die kinders se behoeftes
 dat jy later nie meer by jou eie verhouding uitkom nie. Onthou, die hele gesin kan verbrokkel as daar nie ’n behoorlike verhouding tussen die man en vrou is nie.

Inligting uit die Februarie 2014-uitgawe van SARIE: Linda Swart, opvoed- kundige sielkundige, Johannesburg lindaswart@xsinet.co.za; www.lindaswart.co.za

 

  • LBS

    Andriëtte, jy is ‘n lieflike mens, bly net soos jy is, daarom dat Glynn jou so liefhet. Voorspoed met jou sangloopbaan en ook met die huwelik en gesin! ♥