FOTO: Elaine Otto Photography

FOTO: Elaine Otto Photography

Het jy gehoor?

Andriëtte Norman se ma gee huweliksraad

Die sangeres Andriëtte Norman sien uit na haar troudag Saterdag. En drie dae voor haar en verloofde Glynn se groot dag, het haar ma vir haar dié huweliksadvies gegee. 

Andriëtte deel dié SMS van haar ma, Anita, op Facebook:

Ag my Pop, jy is ‘n juweel en my Klein Porseleinpoppie vir ewig en altyd, die mooiste bruid op die mooiste dag net vir julle! Dis seker die dag waarna ‘n meisie die meeste uitsien. Dit voel al seker of jy vlinders op die maag kry, maar weet jy wanneer raak dit soos ‘n geslypte diamant, wanneer jy saam jare vir mekaar koester, respekteer, en fight vir mekaar, nooit moed opgee nie, weer en weer omgee en dan kry jy daai diamant. Dan is mens onafskeidbaar, dis iets wat jul sal sien die Heer gee as geskenk vir mense wat vir ALTYD veg vir mekaar, nie moed opgee nie, liefhet en respekteer.
Dis soos ek nou met Pappa voel, ek wil net sy ou handjie vashou vir ewig, al bewe ons koppies al. Dit was worth it, amper 36 jaar. He he, ek raak nou nostalgies
Xxxx

Andriëtte het in die Junie-uitgawe van SARIE meer vertel oor die man wat haar hart gesteel het. Hieronder volg ’n uittreksel:

Glynn, ’n biokinetikus, gun haar haar sangloopbaan, al ken hy as Engelssprekende nie altyd die kunstenaars saam met wie sy optree nie. “Snotkop? Wie’s dit?”

En hy hou ook nie saans sy horlosie dop sodat sy haar ná ’n vertoning huis toe moet haas nie. “Hy vertrou my, soos ek hom.”

“Hy laat my so veilig voel,” antwoord sy op ’n vraag hoekom hy die een vir haar is. Daar is gedeelde waardes en belangstellings, ja. Hulle gesels en lag lekker, kan saam bid. In die moeilike bedryf waarin sy is, is hy ook ’n skuiling. “Hy is altyd net daar. As ek van ’n vertoning af terugkom, sal hy wag met ’n bos rose, my rug masseer. Hy is baie romanties en koester my heeltyd. Ek het genoeg van die ander kant gesien om te weet dis wat ek in ’n man soek.”

“Hy pas net oral in. Hy kan met enige mens oor enigiets praat. Tot jukskei. En daardie persoon sal daarna opstaan en dink: ‘Wat ’n oulike ou!'” straal sy.

Glynn wil sommer dadelik ná hul troue die gesin uitbrei. Maar sy wil eers nog ’n bietjie wag. Dalk wanneer sy dertig is. En dan, met daardie aansteeklike lag: “Dis volgende jaar!”

Aan haar slanke ringvinger pryk die ring: witgoud, met ’n groot diamant
in die middel en drie kleintjies aan weerskante. Hulle het nie weer met dieselfde ring verloof geraak nie. Hierdie een pas beter by die nuwe, meer volwasse Andriëtte, reken sy. Die vorige een, met diamante in ’n sirkel geset en diamantjies aan die hoepel-deel, was “jonger”.

En dis mos ook ’n nuwe avontuur!

Lees die volledige artikel in die Junie-uitgawe van SARIE wat nog op die rak is!

Karlien van Jaarsveld junie jun 2015

Wat is die beste huweliksadvies wat jy al gekry het? Los kommentaar onderaan dié artikel, of deel dit met ons op ons Facebook- of Twitter-blad!

Lees ook