Het jy gehoor?

Angelina Jolie – die nuwe Cleopatra?

Wel, sy en regisseur David Fincher maak reeds planne vir ’n nuwe Cleopatra-film.

Angelina het dit bevestig by die Cannes-filmfees in Frankryk, berig Perez Hilton. Sy bemark haar nuutste fliek, Kung Fu Panda 2, daar.

“Dit is nog baie vroeg om te veel te sê. Ek en David is ou vriende en soek nog altyd iets om saam te doen,” het Angelina aan joernaliste in Cannes vertel.

Fincher is die regisseur van The Girl with the Dragon Tattoo.

Sy is baie geheimsinnig oor of sy self die rol van die antieke Egiptiese koningin gaan speel. “Ek vervaardig die prent,” was al wat sy aan joernaliste verklap het.

Angelina vervaardig tans ook ’n fliek wat gaan oor die verhouding tussen Winston Churchill en Theodore Roosevelt. Anthony Hopkins het reeds die rol van Churchill aanvaar, maar Roosevelt se rol is nog vakant.

Elizabeth Taylor het in 1963 die rol van Cleopatra in die gelyknamige prent vertolk. Sy en Richard Burton het mekaar op die stel ontmoet en hulle is daarna twee keer getroud. Die begroting vir die fliek was destyds $44 000 000, wat dit een van die duurste flieks maak wat nog vervaardig is. Volgens ’n tabel wat inflasie volgens die Amerikaanse verbruikersprys-indeks in ag neem, is dit inderdaad die duurste rolprent tot op hede.

  • Martie

    Ek is absoluut dol oor Angelina en ek dink dat sy ‘n veelsydige aktrise is wat haarself uiters goed in karakter kan inleef. Meer eerlike opinie is dat sy ‘n beeldskone en interessante Cleopatra sal maak. As daar iemand is wat die uiters beeldskone en wonderbaarlike Cleopatra kan vertolk, dan is dit Angie.