angelina_red_dress
Het jy gehoor?

Angelina Jolie kan nie nog kinders kry nie

In ’n poging om kanker te voorkom het Angelina Jolie verlede week haar eierstokke en Fallopius-buise laat verwyder, berig The Hollywood Reporter. Dit beteken dat sy nie weer kinders kan kry nie. 

Die 39-jarige aktrise, wat in 2013 vir dieselfde rede ’n dubbele mastektomie gehad het, het haar nuutse operasie weer in ’n ope brief aan The New York Times onthul.

Twee jaar gelede het ’n bloedtoets gewys dat ’n mutasie in Angelina se BRCA1-geen haar risiko vir borskanker met 87% en dié vir kanker van die eierstokke met 50% verhoog

Menopouse is nou deel van Angelina se lewe, want dis een van die newe-effekte van haar nuutste operasie.

Die Tomb Raider-aktrise, wat haar ma, ouma en tante aan kanker verloor het, het openhartig in The New York Times geskryf: “Daar is meer as een manier om gesondheidskwessies te hanteer. Die belangrikste ding is om bewus te wees van verskeie opsies en die regte een vir jou te kies.

“Dit is onmoontlik om alle risiko’s te verwyder en ek kan steeds met kanker gediagnoseer word … Maar ek weet ook dat my kinders nooit hoef te sê ‘My ma het aan kanker van die eierstokke gesterf’ nie,” het sy bygevoeg.

Angelina is ma van ses, waarvan drie aangeneem is: Maddox (13), die 11-jarige Pax, 10-jarige Zahara, Angie en Brad se biologiese dogter, die 8-jarige Shiloh, en hul biologiese 6-jarige tweeling, Knox en Vivienne.

Bronne: The Hollywood Reporter en The New York Times

Lees ook