Het jy gehoor?

Angelina Jolie maak nóg ‘n inspirerende fliek

Angelina Jolie het nie net ’n Oscar-beeldjie in haar huis en Brad Pitt aan haar sy nie, sy het ook ’n versteekte talent as regisseur. Nadat sy in 2011 groot lof verwerf het vir haar eerste groot film, In the Land of Blood and Honey, gaan sy weer agter die kamera inskuif en haar lyf regisseur én vervaardiger hou van die nuwe rolprent, Unbroken.

Dié rolprent is geskoei op Laura Hillenbrand se topverkoper, Unbroken: A World War II Story of Survival, Resilience, and Redemption. Hillenbrand het ook Seabiscuit: An American Legend geskryf wat in 2003 verfilm is met Jeff Bridges in die hoofrol.

Nadat Angelina dié boek oor die ongelooflike lewensverhaal van Louis Zamperini gelees het, het sy besluit sy wil aan die film werk.

Louis, wat op 95 nog ’n motiveringspreker is, is ’n Olimpiër en oorlogsheld. Hy het aan die 1936 Olimpiese Spele in Berlyn deelgeneem en by dié geleentheid vir Hitler ontmoet. Hierna het hy by die Amerikaanse Lugmag aangesluit.

Sy vliegtuig het in die see neergestort en hy moes saam met twee bemanningslede vir 47 dae op ’n boot oorleef. Maar hul beproewing was lank nie verby nie. Hulle is deur die Japanese Vloot in hegtenis geneem en na ’n oorlogskamp gestuur tot die einde van die oorlog.

“Louis is ’n ware held en ’n man met geloof en waagmoed. Dit is vir my ’n eer om die geleentheid te kry om sy inspirerende storie te vertel,” sê Angelina.