Het jy gehoor?

Anna Pavlova dans Die sterwende swaan

Sy was een van die wêreld se betowerendste ballerinas. Anna is in 1881 in St. Petersburg, Rusland, gebore. Haar ma was ’n wasvrou, maar dis onbekend wie haar pa was. Op agt het sy en haar ma ’n ballet-uitvoering van Die slapende skone in die Mariinskiteater in St. Petersburg gaan kyk. Van toe af wou sy ’n ballerina word.

Sy is aanvanklik nie gekeur as lid van die beroemde en eksklusiewe St. Petersburg Koninklike Balletskool nie (dis vandag as die Vaganova Akademie van Russiese Ballet bekend), maar is twee jaar later, in 1891, aanvaar.

Op 25 word sy die prima ballerina van dié geselskap en die choreograaf Mikhail Fokine skep spesiaal vir haar die kort solo-balletstuk Die sterwende swaan, waarvoor sy later bekendheid verwerf het. Tydens haar loopbaan as ballerina betower Anna gehore wêreldwyd.