Het jy gehoor?

Annie Malan blog vir SARIE.com uit Qunu – DEEL 2

Aktrise en sakevrou Annie Malan blog eksklusief vir SARIE.com uit Qunu waar sy Sondag, 15 Desember, wyle oudpresident Nelson Mandela se begrafnis bygewoon het.

Lees die aanloop tot die begrafnis HIER in DEEL 1.

SONDAG 15 Desember, 18:40

Ek is in Oos-Londen saam met my vriende en ons is op pad terug. Twee en ’n half uur se refleksie in ons huurmotor het vir ons ’n paar dinge wysgemaak….

  • Ons moenie net bymekaarkom as die gebeure só groot is nie, maar ook vir die kleiner dinge
  • Sekuriteit was so goed dat tot Oprah se konvooi aanvanklik nie kon deur nie
  • Ons is almal eg Suid-Afrikaans

MAANDAG 16 Desember, 18:12

Die mooiste gedagte vir my ná die massiewe paar dae was ’n oomblik net ná die begrafnis: Kos is uitgedeel vir ál die begrafnisgangers. Pragtige skinkborde met hoender en vrugte en so.

Ons moes na ons sekuriteitsmotor haas om betyds terug te kom by die gastehuis sodat ons Oos-Londen kon haal om 19:40 vir ons vlugte terug Johannesburg toe. Angstig wag ons vir die hele groep vriendinne om bymekaar te kom. Ek en Bassie klim in die een motor en wag solank. Ons is te moeg, te honger, om te gesels.

Die wonderbaarlikheid en kolossale siele en gesprekke wat ons pas beleef het was te groot om alles te absorbeer. Kenneth Kaunda wat ons herinner dat ons aan andere moet doen wat ons aan onsself gedoen wil hê. Mandela se beste vriend Ahmed Kathrada wat sy maatjie mis. Cyril Ramaphosa wat so diplomaties alle verrigtinge laat verloop het, wetend dat ons nie weer ’n uitjou wil hoor uit die gehoor nie. Nandi Mandela wat praat oor al die Mandela-kleinkinders en seker maak sy sluit al drie die families se verhale in om al die kleinkinders in te sluit by haar toespraak.

Ek sit en reflekteer oor Oprah wat heeltyd op haar Stedman se skouer gelê en bitterlik gehuil het. Richard Branson wat ook al ouer word al is sy gees steeds so energiek en sjarmant soos altyd… Patrice Motsepe die ewige ware heer. ..

Ek en Bassie sit in die motor, en uitgeput en warm… en op die radio speel Stille Nag in suiwer Afrikaans hier in Qunu waar ons ons held begrawe het.

En ek besef, Madiba was lief vir álmal van ons – ongeag ons politiek, ons ras, ons voorkeure, en selfs as ons nog nie ons rubicon oorsteek het nie, was hy lief vir jou, al het jy hom of sy mense nog nie volkome in jou hart ervaar nie.

Ek wil iets doen vir Madiba. Iets blywend.

Die absolute krisis in Qunu om dalk sonder vervoer te moet terug Umtata toe… my atletiese brein werk uit dat dit my twee en ’n half uur sal neem as ek nou begin hardloop om die 30km te hardloop. Gelukkig arriveer ons huurmotor, maar ek sal nooit weer verby ’n vrou ry wat iewers heen stap, sonder om seker te maak ek kan haar dalk van hand wees op haar reistog. Dít gaan van nou af My Madiba-oomblik wees!

Stille Nag, liewe SARIE-lesers.

Wees Geseënd

xxxxxx Annie