FOTO Matthew Kane

FOTO Matthew Kane

Het jy gehoor?

Apps wat lewens red!

Die volgende 5 apps was onlangs in die nuus en het ons aandag getrek. Kan jy die lewe voor apps voorstel? Deesdae kry jy selfs een wat jou waarsku jy is besig om jou hart op ‘n verlangse familielid te verloor!

Daar is inderdaad ’n app vir enigiets. En dié apps kan probleme identifiseer en oplossings vind — al is die probleem hoe bisar.

Facebook se hulpsentrum vir selfdood-gedagtes

Facebook se hulpsentrum het vroeër vandeesmaand aangekondig hul ondersteuningsdiens vir mense met selfdood-gedagtes, is nou beskikbaar in al die tale waarin jy die sosiale netwerk kan lees. Voorheen was dit net in Engels.

Dié diens ondersteun mense met depressie, hul familie en vriende met raad en hulpbronne. Jy kan 24/7 by Facebook Safety aanmeld en iemand sal jou dadelik help.

app

Die selfdood-syfer vir mans is tans die hoogste in drie dekades. En die selfdood-statistiek vir vroue tussen 45-65 besig om te styg. Facebook het dit as ‘n probleem identifiseer en wêreldwyd hulp gevra om hulle met dié diens te help.

As jy volgende keer op Facebook gaan, loer gerus by die Safety Centre in. Daar is ook hulp vir internet-boelies en nog vele meer.

Frankryk se plan

Dis die derde week van die Euro2016-sokkertoernooi. En met die onlangse terreuraanvalle is almal versigtig vir groot skares en openbare plekke. Daarom het die Franse regering ’n app ontwikkel wat jou op jou slimfoon waarsku as daar ’n potensiële gevaar is. Hierdie app is tjoepstil en vibreer ook nie. Niemand kan jou dus opspoor as jy wegkruip nie.

Sodra die owerhede ’n aanval bevestig, sal Population Alert and Information Services (SAIP) binne die eerste vyftien minute met jou kontak maak. Jy kan ook agt ander gebiede op die app dophou vir familie op ander plekke. In die toekoms sal dié app ook na ander lande uitgebrei word. En jou ook waarsku oor ander gevare, soos vloede, ongelukke, ensovoorts.

’n App wat bloedskande keer

app

FOTO Unsplash (Garrett Sears)

Ysland se bevolking bestaan uit net 323 002 siele (2013-statistieke) met ‘n klein groepie voorvaders. Die kans is dus goed dat jy jou hart verloor op iemand wat verlangs familie is. Dankie tog vir Íslendingabók (vertaal as “Book of Icelanders”).

Jy laai bloot die app af en sit dit teen die slimfoon van nog ’n Yslander. Die app sal via ’n boodskap laat weet of julle familie is!

“Siri, bel ’n ambulans”

Stacey Gleenson se eenjarige dogtertjie het in Maart vanjaar ophou asemhaal. Sy het Siri, ‘n app op haar iPhone, gevra om die ambulans te bel. Siri is ’n program wat as ’n persoonlike assistent en navigator werk.

Die baba-monitor het blou geword en in haar haas na haar dogtertjie se kamer, het sy haar slimfoon laat val. Toe sy van Siri onthou (wat geaktiveer word as jy “hey Siri” sê), het sy begin skree vir ’n ambulans. En moes bloot haar adres gee toe die nooddienste antwoord.

Die ambulans was vinnig op die toneel en Stacey se dogtertjie het oorleef. Sy was so dankbaar, sy het ’n brief aan Apple gestuur om dankie te sê.

En dan is daar ook die ander kant van apps, wat dood kan veroorsaak

Mense gebruik apps in wildtuine om uit te vind waar skaars diersoorte gevind kan word. Die dolle gejaag daarnatoe, lei tot baie diere se dood, volgens ‘n verklaring van SANParke vroeër vandeesmaand. Apps in verkeerde hande kan dus hartseer veroorsaak. Kyk wat het met die dolfyn gebeur toe mense hom vir selfies uit die water gehaal het. Hy is dood.

Dis dus belangrik om apps diskreet te gebruik en jou eie veiligheid (lees hier oor internetveiligheid) en ander mense s’n in ag te neem. Lees SANParke se verklaring hier:

Lees nou

Winter-apps vir lui mense!

Kyk wat kan WhatsApp nóg doen!

’n Selfoonkontrak en apps vir jou langafstandverhouding!