FOTO Facebook / Arno Carstens

FOTO Facebook / Arno Carstens

Het jy gehoor?

Arno maak eerste Afrikaanse CD

Ná twee dekades sing die Springbok Nude Girls se Arno Carstens uiteindelik in Afrikaans – Die Aandblom 13 is glo ’n “alternatiewe meesterstuk”. Hy het al tien albums uitgereik, eers vyf as hoofsanger van Springbok Nude Girls en daarna vyf as solokunstenaar. En hy spog met 5 SAMAS!

Arno sê hy het altyd geweet hy sou in Afrikaans sing. “Ek is bly dit het so lank geneem om dit te doen.’’ Hy glo die tyd is nou reg.

Aandblom 13

Hy het grootgeword in Aandblomstraat 13, Worcester.

“Ja, die wiel het gedraai, dis waar alles begin het.” Hunter Kennedy en Fred den Hartog het “Anderkant” geskryf. Die ander twaalf liedjies het hy geskryf. En “Vloerplanke” is sy gunsteling. “Dit gaan oor die rouproses nadat ’n oom sy vrou verloor het. Afrikaans maak elke woord in die song treffend. Dit is ’n great song om live te doen.’’ Hy reken dié album is baie meer persoonlike as sy voriges omdat dit in is sy moedertaal is.

“Dit bevat 44 jaar se ervarings en stories.”

Die album het ’n jaar gevat om te maak. “Die grootste uitdaging was om melodies in Afrikaans te dink, maar dit was een van my lekkerste projekte nog.”

Arno is lief vir Afrikaans. Sy gunsteling-woorde? Ja, dankie en asseblief.

Is hy bekommerd oor Suid-Afrika se toekoms? “Nee, eerder besorgd oor die wye wêreld. Wat anders kan ons doen as om positief te wees. ’n Mens het nie juis ’n keuse nie.”

Sy planne vorentoe? ’n Kunsuitstalling en wie weet, ’n nuwe Springbok Nude Girls-album. En as hy nie musiek maak nie, is hy mal oor draf, ’n goeie movie en om met sy seun uit te hang.

FOTO Vanessa Correia en Chloe vir Menina +May Photography

FOTO Vanessa Correia en Chloe vir Menina +May Photography

Dis ’n veelsydige man. Verlede jaar het hy in The Last Face, waarvan die akteur Sean Penn die regisseur was, gespeel. Dis in Kaapstad geskiet en gerugte het die ronde gedoen dat ons eie ster van Benoni, Charlize Theron, en Penn, toe nog ’n couple, se liefdesprobleme met die verfliming van dié rolprent begin het omdat Sean haar stief en bruusk behandel het.

Hoe dit ook al sy, Arno het die hoogste lof vir Sean. “Ongelukkig is my scenes uitgesny, maar dit was awesome. Sean het my met my toneelspel gekomplimenteer en dit het vir my baie beteken. My dramaklasse op skool het toe tog handig te pas gekom.” Arno sê hy sal ook nie omgee om ’n musiek-show op televisie aan te bied om die musikale diversiteit in Suid-Afrika te wys nie.

Wie weet tot watter nuwe hoogtes Die Aandblom 13 hom gaan neem? Hy het immers al saam met ikoniese groepe soos The Rolling Stones, U2, en The Police opgetree en was medeskrywer van drie songs van Mike & The Mechanics se 2011-album The Road.

Lees nou

37 nuwe emoji’s beskikbaar!

Liev se bittersoet boodskap aan Naomi

Lady Gaga by die Super Bowl!