Het jy gehoor?

Aspoestertjie blog: Onderklere, bo jou klere of deur jou klere …

Ek sal verstaan as jy dink dat hierdie neiging eerder moet bly waar jy dit seker die eerste keer gesien het: op Madonna of Lady Gaga.

Maar moenie verbaas wees as jy ‘n bra hier of daar sien uitsteek of deurskyn by meer as net die kantoor-flooze nie. Hierdie neiging maak al die rondtes vir jare, maar dit voel vir my asof dit nou op baie stylvolle maniere gedra kan word. Dit hang natuurlik af van mens tot mens. (Wat stylvol is vir een is dalk lekker zef vir ‘n ander.)

Die algemene reël van matigheid kan gerus hier tel, “less is more” soos die Ingelse sê. Hou tog in gedagte met less bedoel ek minder La Senza-geheimpies wat uitsteek. 

Lingerie lovers Dolce & Gabbana en Jean Paul Gaultier het jare terug hiermee begin, nou sien ons ontwerpers soos Karl Lägerfeld, Antonio Berardi en die Fendi-modehuis wat hierdie neiging ten toon stel op hul loopplanke. 

Jy gaan hierdie somer meer en meer sien hoe onderklere alle modes inspireer, van baaibroeke tot trourokke. 

As jy kans sien hiervoor, vind jy hopelik ietsie wat by jou pas! :)