Het jy gehoor?

At Botha skilder! En die appel val nie ver van die boom nie

In die laaste paar jaar het hy meer op sy loopbaan as kunstenaar begin konsentreer. Deesdae sien hy homself eerder as ’n kunstenaar wat ook toneelspeel, pleks van andersom. “My inspirasie om te skilder kom uit beelde uit my kinderdae. Wolke en berge fassineer my. Ek hou daarvan om mense te teken wat na die wolke of berge kyk, daarom sien jy die meeste figure in my kuns van agter,” sê At.

At se seun, Johan, is ook ’n skilder. Hy het van kleins af by die bekende André Naudé geleer en het kuns studeer aan die Universiteit van Pretoria.

Dié twee het pas saam uitgestal in Alice Art Gallery in Roodepoort. SARIE se styl- en sosiale redakteur, Fanie Cronjé, was daar. “Dit was ’n heerlike aand! Lekker informeel saam met ’n klomp kunssinnige mense. Johan se werk is glad nie kommersieel nie en die uitstalling was ook so. Dit was ’n Boheemse aand met eindelose talent en goeie kuns.”